Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
W-Kaapse dept. van gesondheid kry skoon oudit ‘ondanks uitdagings’
Dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR vir gesondheid.Foto: Malherbe Nienaber

Ondanks die uitdagings van ’n groeiende bevolking en begrotingsbesnoeiings het die Wes-Kaapse departement van gesondheid vir die eerste keer ’n skoon ouditmening (sonder bevindings) ontvang.

Die departement het Woensdag sy jaarverslag vir die boekjaar 2018-’19 in die Wes-Kaapse wetgewer voorgelê en aangedui dat hy 99,8% van sy begroting van R23 miljard bestee het.


Luidens ’n verklaring van die departement is dit ook die eerste departement van gesondheid in die land wat ’n ongekwalifiseerde ouditmening (skoon oudit) van die ouditeur-generaal (OG) ontvang het.

Dr. Nomafrench Mbombo, LUR vir gesondheid, sê die afgelope boekjaar het nie sonder uitdagings vir openbare gesondheidsorg verloop nie en die stelsel verkeer in die algemeen “onder uiterse druk”.

“Ons het voor begrotingsbesnoeiings, verstedeliking en mense wat hierheen verhuis, watertekorte, die uitbreking van siektes, uitdagings met die veiligheid van ons personeel en rampe soos brande te staan gekom.”

Mbombo sê die provinsie bied egter steeds van die beste gesondheidsorg in die land en die hoogste lewensverwagting van al die provinsies met 91,5% van die inwoners wat toegang tot gesondheidsdienste binne 30 minute van hul woning af het.

Die departement belê ook in opleiding, leierskapsontwikkeling, stelselontwerp en werk saam met die hele gesondheidstelsel met die oog op universele gesondheidsdekking, lui die verklaring.


Verder het die departement begin klem plaas op ’n diensleweringsmodel van gemeenskapsgerigte primêre sorg waar gesondheidswerkers self na gemeenskappe en wonings uitgaan “om sorg tot by pasiënte se blyplek te neem en inwoners met ander dienste te verbind”.

Wendy Philander, DA-lid van die Wes-Kaapse wetgewer en woordvoerder oor gesondheid.Foto: Facebook (WCPP)

Volgens Mbombo is dié model reeds by 20 opleidingsentrums in werking gestel en sal dit verder uitgebrei word.

In die boekjaar 2018-’19 is 96 249 babas in Wes-Kaapse staatshospitale gebore, terwyl 484 946 mense deur die mediese nooddienste vervoer is.

Altesaam 288 199 pasiënte is vir akute sorg in 33 distrikshospitale opgeneem en 125 976 pasiënte is in 16 streeks- en gespesialiseerde hospitale opgeneem.

Verder het 278 027 mense antiretrovirale behandeling ontvang en is die oordragkoers van MIV van moeder na kind 0,3% binne die eerste tien weke van swangerskap.

Die departement het ook in die boekjaar nuwe klinieke in Mosselbaai en Wolseley voltooi en die apteek by die Wellington-dagsentrum opgeknap.

Wendy Philander, DA-lid van die wetgewer en woordvoerder oor gesondheid, het in ’n verklaring gesê die departement het vir die afgelope vier jaar skoon finansiële oudits ontvang, maar nie ’n skoon oudit in geheel nie.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Gesondheid  |  Ekonomie  |  Departement Van Gesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.