Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Wag strenger regulasies op Gauteng?

Strenger regulasies in Gauteng of die algehele inperking van die provinsie sal nie die derde vlaag in ander provinsies stuit nie.

“Dit kan dit nie stop nie,” sê prof. Bruce Mellado, hoofmodelleerder van die Covid-19-bevelsraad in Gauteng, waar ’n verwoestende derde vlaag van infeksies woed.

Mellado se kommentaar kom nadat pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag gesê het dat die inperkingsmaatreëls in veral Gauteng verskerp moet word, berig Christiaan du Plessis.

Ramaphosa het op ’n mediakonferensie in Kaapstad se hawe gesê die nasionale Covid-19-bevelsraad sal oor ’n strenger inperkingsvlak vergader en aanbevelings maak.

Ons is diep bekommerd en (in Gauteng) sien ons ’n infeksiekoers wat baie hoër as voorheen is.

“Ons is diep bekommerd en (in Gauteng) sien ons ’n infeksiekoers wat baie hoër as voorheen is,” sê Ramaphosa.

Julius Malema, EFF-leier, het op dieselfde dag in ’n onderhoud met NewzRoom Afrika beweer dat Ramaphosa dit oorweeg “om die land weer vir 21 dae na vlak 5 (weens die derde vlaag van infeksies) te skuif”, berig Llewellyn Prince.

Die EFF sal dít en alle ander inperkingsregulasies egter minag totdat alle Suid-Afrikaners ingeënt is.

“(David) Makhura (premier van Gauteng) kan niks doen nie; hy pronk net. Hy is nie by magte om die provinsie na enige plek te skuif nie,” sê Malema.

Die Gautengse Covid-19-bevelsraad het Dinsdagmiddag vergader en volgens Mellado het Makhura reeds voor die vergadering met die regering oor strenger regulasies gesels.

Mellado sê hy dink nie die premier sal, soos wat gebruiklik is, tot Vrydag wag voordat hy ’n aankondiging maak nie. “Drie dae is baie lank in ’n pandemie.”

Volgens hom is die nakoming van regulasies 50% laer as wat dit in die eerste vlaag was en hy pleit by die publiek om meer gehoorsaam te wees.

Jy kan nie die ekonomie toemaak nie, dit is lewensbloed vir ons almal. Jy moet die ekonomiese aktiwiteit soveel en sover as moontlik oophou. Hongersnood eis meer lewens as die virus.

Prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële advieskomitee vir Covid-19-entstowwe, sê uit ’n mediese oogpunt sal dit goed wees as die regering Gauteng “minstens twee weke” onder ’n streng inperking plaas.

Volgens hom sal dit die gesondheidstelsel genoeg kans gee om te herstel.

Hospitale in Gauteng verkeer onder geweldige druk en geriewe in die private en staatsektor is oorvol.

’n Dokter in ’n Gautengse hospitaal wat anoniem wil bly, sê dit is eintlik nou te laat om inperkings in te stel omdat die hospitale reeds oorweldig is.

Sy sê al wat dalk kan help, is ’n drankverbod “om traumagevalle in hospitale te help verminder”.

Prof. Alex van den Heever, hoof van die skool vir regeerkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), sê egter dit is onredelik om vlak 5 nasionaal of provinsiaal in te stel.

“Die fokus moet wees op byeenkomste, nie alles nie. Verlede jaar se vlak 5 het niks gekeer nie,” sê Van den Heever.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, stem uit ’n ekonomiese oogpunt met Van den Heever saam.

“Jy kan nie die ekonomie sluit nie, dit is die lewensbloed vir ons almal. Jy moet die ekonomiese aktiwiteit soveel en sover as moontlik oophou. Hongersnood eis meer lewens as die virus,” sê Roodt.

Volgens hom sal dit veral ’n probleem wees as Gauteng sy grense sluit omdat die meerderheid van die ekonomiese aktiwiteit hier plaasvind.

Prof. Koos Malan, verbonde aan die departement van publiekreg aan die Universiteit van Pretoria (Tuks), sê daar is geen voorskrif in die Grondwet wat die regering belet om slegs strenger regulasies in een provinsie in te stel nie.

“Dit hang tot ’n groot mate van hul eie oordeel af,” sê Malan.

Daar is nog geen duidelikheid oor wanneer die nuwe regulasies afgekondig gaan word nie.


Vlak 5 kan drankbedryf, restaurantbedryf knak

drankwinkel, drankverkope, drankverbod

Rolspelers in die drankbedryf sê nog ’n algehele drankverbod, soos tydens die vorige vlak 5-inperking, sal verwoestend wees.

Patricia Pillay, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Biervereniging (Basa), sê tydens vorige drankbeperkings het 7 400 mense in die bierbedryf hul werk verloor en het hulle R14,2 miljard se inkomste verloor.

“Nog ’n verbod sal duisende klein ondernemings wat nog probeer om weer op hul voete te kom ná die vorige verbod ’n ernstige knou gee, wat sal lei tot meer werkverliese, die sluiting van ondernemings en ’n verlies aan inkomste vir die nasionale fiskus.

“Dit geld alle produsente, maar veral vir klein brouers wat tans skaars oorleef,” sê Pillay.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Drankhandelsnaam-eienaars (Salba) sê hy het omtrent R36,3 miljard se verlies gely.

“Die verbod op formele alkoholverkope bevorder onwettige handel en beroof die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die plaaslike bedryf van belasting- en verkoopsinkomste,” sê Kurt Moore, uitvoerende hoof van Salba.

Wendy Alberts, voorsitter van die Suid-Afrikaanse restaurantvereniging, pleit dat die regering hulle moet bystaan.

Sy sê hulle voel reeds die uitwerking van die derde vlaag en dat daar “dag ná dag” minder mense in restaurante is.


So het die vorige vlak 5 gelyk

emigrasie
iStock

In Maart 2020 is die eerste algehele inperking afgekondig en Suid-Afrika sou daarna ná vlak 5 beweeg.

Die volgende regulasies het toe gegeld:

• Die verkoop van alkohol en sigarette is verbied;

• Mense kon nie wegneemetes koop nie;

• Gimnasiums, kerke, casino’s, strande, markte, winkelsentrums, fliek- en ander teaters, hotelle, restaurante en lodges was gesluit;

• In ’n stadium kon ’n mens slegs winterklere koop;

• Alle personeel wat nie noodsaaklike dienste verrig nie, moes van die huis af werk;

• Geen vervoer met vliegtuie, skepe of treine is toegelaat nie, tensy dit goedere vervoer het;

• Interprovinsiale reis is verbied; en

• Die aandklokreël was van 20:00 tot 05:00.

Meer oor:  Prof. Bruce Mellado  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Covid-19  |  Inperkings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.