Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Wat nou van my nagrus, Eskom?

As die krag snags met beurtkrag afgaan, voel dit kompleet asof die Dementors van Harry Potter-faam jou asem en jou siel uit jou liggaam suig.

Neels Jackson demonstreer die apparaat wat hom snags help asemhaal. Foto: Deon Raath

So sê Neels Jackson, gewese Beeld-joernalis en voormalige redakteur van Kerkbode, wat een van miljoene mense in Suid-Afrika is wat elektrisiteit nodig het om snags asem te haal en vir wie beurtkrag hel op aarde is.

Sowat 6% van die bevolking, dus meer as 3 miljoen mense, ly aan ernstige slaapapnee wat beteken dat hulle tussen 30 en 35 keer per uur “ophou” asemhaal, sê Peet Vermaak, ’n neuro­fisioloog en eienaar van die slaapkliniek Sleep Lab.

Nog ’n groot groep pa­siënte hou tussen 15 en 30 keer per uur op asemhaal.

Hy sê mense wat meer as 20 keer per uur ophou asemhaal, behoort ’n sogenaamde CPAP-apparaat te gebruik. Dit blaas deur ’n masker lug in die keel om die lugweë met subtiele verhoging van lugdruk oop te hou.

Hulle skrik wakker met iets soos ’n angsaanval.

Jackson sê met sy diagnose is bepaal dat sy langste periode sonder asem 100 sekondes – meer as ’n minuut en ’n half – geduur het. “Dit beteken dat ’n mens nooit behoorlik slaap nie. Jy gaan nooit in ’n diep slaap nie en rus nooit uit nie,” sê hy.

Die gevolg vir hom was ’n totale gebrek aan energie deur die dag en erge hoofpyne. “As jy ophou asemhaal, kry jou brein nie suurstof nie,” sê hy.

Jackson sê hoewel hy dit nie self ervaar nie, is dit ook algemeen dat lyers aan slaapapnee nagmerries kry dat hulle verdrink en nie kan asem kry nie. Daar is ook ’n sterk verband tussen slaapapnee en depressie.

Vermaak voeg by dat slaapapnee kan lei tot die vergroting van die hartspier, hoë bloeddruk, diabetes, hormoon- en neuro-oordragversteurings en oorgewig. Dit kan ’n lyer se vermoë om sy dagtaak uit te voer geweldig beperk.

Jackson sê sedert hy ’n paar jaar gelede die CPAP-apparaat begin gebruik het, het hy meer energie. Die lewe is lekkerder, sê hy.

Ook die pasiënt se bedmaat kry meer rus, omdat dit korte mette maak van die kenmerkende gesnork.

En toe kom Eskom.

Vir mense wat vir hul slaap van ’n CPAP-apparaat afhanklik is, is kragonderbrekings gedurende die nag bitter slegte nuus.

“Toe die krag nou die nag van 03:00 tot 5:30 af was, het ek om 3:03 wakker geskrik en toe maar opgestaan en gaan sit en lees,” sê Jackson.

Omdat hy afgetree het, kon hy later gaan rus, maar iemand wat die volgende dag moet werk, is in die moeilikheid, sê hy.

’n Vriend wat aan dieselfde kwaal ly, het gespot dat hulle twee mekaar maar iewers moet kry vir koffie, of by sy skoonma se huis moet gaan slaap, waar daar krag is.

Vermaak sê sy praktyke word oorval deur pasiënte met klagtes dat hulle nou onder beurtkrag deurloop.

“As die krag onderbreek word, skrik hulle wakker met iets soos ’n angsaanval en wil nie gou weer gaan slaap nie.”

’n CPAP-apparaat soos die een wat Jackson gebruik, kos van R13 000 tot R15 000.

As jy wil voorsiening maak vir beurtkrag sal die battery en ander benodigdhede jou ’n verdere R6 000 tot R12 000 uit die sak jaag.

Jackson sê hy gaan die geld maar hoes ter wille van ’n goeie nagrus.

“Ek is gelukkig in die posisie dat ek dit kan doen, maar baie ander mense is nie,” sê hy.

Meer oor:  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.