Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Waterlose kliniek in Virginia gesluit

Die O.R. Tambo-kliniek in Virginia wat al twee maande sonder water is, is Dinsdag gesluit nadat die departement van arbeid daarheen gestuur is, sê Odie Odendaal, skakelbeampte van die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA) in Bloemfontein.

Netwerk24 het op 31 Augustus geskryf Odendaal het gesê die kliniek van die Vrystaatse gesondheidsdepartement was ses weke sonder water en dat die werknemers gekla het dat hulle nie eers in die koronaviruspandemie hulle hande daar kan was nie.

Mariëtte Pittaway, DA-wetgewerlid en woordvoerder oor gesondheidsake, het toe gesê Montseng Tsiu, die Vrystaatse LUR vir gesondheid, het verskeie kere gesê dat water- en elektrisiteitsprobleme by gesondheidsklinieke in die provinsie opgelos is, terwyl dit nie so is nie.

Sy het gesê dit is onaanvaarbaar dat klinieke in die pandemie sonder water en elektrisiteit sit.

Mariëtte Pittaway Foto: Argief

Sy het gesê daar word so op hospitale gefokus dat klinieke afgeskeep word.

Vrystaatse klinieke word ook vir tot tien dae gesluit as iemand daar positief vir Covid-19 getoets is, terwyl inwoners nêrens anders het om heen te gaan nie.

Pittaway sê sy het Vrydag aan die LUR geskryf en haar gesmeek om iets te doen omdat die kliniek in Virginia nou al agt weke sonder water is.

“Daar is ook gevalle waar mense by die kliniek positief vir Covid-19 getoets is, maar dit word nie ontsmet nie.”

Sy sê sy het vir die LUR geskryf dat die werkers en pasiënte se lewe in gevaar gestel word.

Montseng Tsiu, LUR vir gesondheid in die Vrystaat. Foto: Argief

“Ek het vanoggend amptelike vrae hieroor aan die LUR gestuur wat wetlik beantwoord moet word. Dit is onaanvaarbaar dat nie na noodsaaklike werkers se belange omgesien word nie.”

Tsiu het vroeër gesê die hele Meloding het nie water nie. By die kliniek is ’n tenk, maar die probleem is dat die drukpomp nie werk nie.

“Ons gaan nou ’n drukpomp koop,” het sy twee weke gelede gesê.

Tsiu het Dinsdagaand gesê sy is in ’n vergadering en sal nie onmiddellik op vrae kan reageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.