Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Wedloop om meer te toets

Internasionale mededinging vir toerusting, ’n tekort aan vlugte asook administratiewe prosesse kan die regering se planne kortwiek om blitstoetse vir die nuwe koronavirus op groot skaal in te stel.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het die afgelope week met groot fanfare aangekondig dat 67 mobiele eenhede in veral townships ontplooi sal word.

Die regering wil hiermee help om die land se vermoë om te toets van ongeveer 5 000 tot meer as 30 000 per dag te verhoog, maar Mkhize het nagelaat om by te voeg dat dit weke kan duur voordat dit ’n werklikheid is. Nog net vyf is in Gauteng ontplooi met nog vyf wat van môre af in die Wes-Kaap opera­sioneel behoort te wees.

SA het toetsstasies, maar voorraad moet uit VSA kom – en die hele wêreld wil ook hê

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en Suid-Korea, waar van die grootste suksesse tot nog toe behaal is om die verspreiding van die virus te bekamp, beklemtoon die belang van ’n massiewe toetsveldtog. Só kan pasiënte vinnig geïdentifiseer en geïsoleer word en die owerhede kan blitsig hulpbronne ontplooi na waar dit die nodigste is.

Anders as die meeste ander lande het Suid-Korea nie ’n staat van inperking ingestel nie, maar skole is wel gesluit. Teen middel-Maart het Suid-Korea reeds 3 960 toetse per miljoen mense gedoen teenoor Amerika, waar die pandemie tans op sy ergste woed, se vyf toetse per miljoen mense, volgens syfers van die Amerikaanse Centers for Disease Con­trol (CDC).

Teen die naweek was Suid-Afrika se toetskoers 847 per miljoen mense – sowat 50 000 toetse in ’n bevolking van 58,8 miljoen.

Hierdie week is vyf van die beloofde 67 mobiele toetseenhede onder meer in Alexandra, naby Sandton, ontplooi. Nog vyf kom môre in die Wes-Kaap in bedryf.

Gevalle van die virus is reeds in Alexandra en Khayelitsha bevestig en die mobiele eenhede sal veral fokus op die meer as 900 grootste risikogebiede wat die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad geïdentifiseer het.

Dié eenhede kan tans slegs moontlike pasiënte vir toetsing identifiseer. Toetse moet steeds by laboratoriums gedoen word.

Net sowat 30 van die mobiele eenhede wat deur die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) verkry is, sal plaaslik vir die nuwe koronavirus kan toets, het dr. Florette Treurnicht, ’n viroloog by die NHLS, gesê.

Suid-Afrika, soos die meeste ander lande, gebruik ’n polimerase-kettingreaksie-toets (PKR) vir die virus en die uitslag is ná 24 uur beskikbaar.

Die Nasionale Patologiegroep (NPG), wat private laboratoriums verteenwoordig, het vroeër in ’n verklaring gewaarsku dat veral kitstoetse wat teenliggaampies toets, dikwels vals resultate oplewer.

Die Amerikaanse kos-en-medisyne-owerheid (FDA) het egter op 24 Maart ’n nuwe PKR-kitstoets goedgekeur wat binne 45 minute wys of iemand die siekte het.

Suid-Afrika het 325 Genexpert-toetsstasies in 180 persele oor die land heen waarmee dié toetse gedoen kan word. Dié masjiene is in 2013 gekoop en personeel is opgelei om dit gebruik vir tuberkulosetoetse, maar dit kan ook gebruik word vir koronatoetse.

“Die groot uitdaging is nou om die materiaal vir die Covid-19-toetse uit Amerika te kry. Die hele wêreld ding mee om goeie, vinnige toetse te bekom,” het ’n Gautengse spesialis gesê. “Die beperking op vlugte belemmer sake nog verder.”

Treurnicht het Vrydag op die radiostasie 702 gesê die eerste toetse vir die Genexpert-masjiene behoort volgende week in die land aan te kom, maar dit is onmoontlik om te sê hoeveel. Sy sê weens die groot behoefte wêreldwyd deel Amerikaanse verskaffers hul produksie proporsioneel toe en dit is nie altyd seker dat jy die hoeveelheid kry wat jy bestel het nie.

Suid-Afrika oorweeg ook ’n alternatiewe toets uit Suid-Korea, wat binne ’n uur ’n uitslag gee en ook in ’n mobiele eenheid gesit kan word, sê Treurnicht.

Forbes berig dat Suid-Koreaanse vervaardigers van Covid-19-toetse hulself staal om dié PKR-toetse op groot maat te begin uitvoer. Meer as 121 lande het al hiervoor gevra.

Treurnicht sê alle nuwe toetse moet egter eers aan plaaslike goedkeuringsprosesse onderwerp word.

Dr. Kamy Chetty, NHLS-hoof, sê die regering hoop om met die nuwe toetse sy vermoë van 5 000 toetse per dag na 15 000 te verhoog teen middel April, en dan tot 36 000 per dag aan die einde van die maand.

Meer oor:  Zweli Mkhize  |  Coronavirus  |  Toetsstelle  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.