Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Weens tekorte word net dié met hoogste risiko nou getoets

Suid-Afrika se private laboratoriums het ’n beroep op dokters gedoen om pasiënte net in uiterste omstandighede vir Covid-19-toetse te verwys.

Die yslike vraag na toetse te midde van ’n internasionale tekort aan toetsstelle bring mee dat laboratoriums oorweldig word en kritieke pasiënte te lank op uitslae moet wag.

Pathcare, Lancet en Ampath sal voortaan in veral Gauteng net polimerasekettingreaksie (PCR)-toetse doen op gesondheidswerkers, hospitaalpasiënte en hoërisiko- simptomatiese pasiënte wat onderliggende siektes het.

Dischem het Vrydag aangekondig hy gaan voorlopig nie meer monsters vir sulke toetse by sy apteke neem nie.

Die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS), wat verantwoordelik is vir die staat se Covid-19-toetse, voer sedert April ’n stryd om agterstande uit te wis. Teen Donderdagaand het private laboratoriumdienste al 54% (1 087 573) van die land se 2 miljoen toetse gedoen. Volgens die departement van gesondheid is 72% van alle nuwe toetse teen Vrydagaand in private laboratoriums gedoen.

Die druk op staatslaboratoriums het die afgelope maand toegeneem. Teen 1 Junie het die staat 51% (385 452) van die land se totale 761 534 toetse gerapporteer. Sedertdien is 1 239 035 Covid-toetse gedoen waarvan private laboratoriums 57% (711 491) gedoen het (sien grafika hiernaas). Die NHLS moes op private laboratoriums begin steun om agterstande te help uitwis.

Pathcare het Maandag aangekondig hy gaan Covid-19-toetse dadelik begin beperk.

Dr. Mick Forder, uitvoerende hoof van Ampath, het Woensdag gesê die skielike toename in Covid-19-infeksies begin die gesondheidsdienste, waaronder patologiedienste, in veral Gauteng oorweldig.

Volgens Forder het Ampath die afgelope week so baie monsters ontvang dat dit nou langer vat om die uitslae uit te bring.

“Weens die groot volume monsters wat daagliks ontvang word, sal net gehospitaliseerde pasiënte, gesondheidswerkers en hoë-risiko- simptomatiese pasiënte ’n prioriteit wees.”

Dr. John Douglass, uitvoerende hoof van Pathcare, het ’n beroep op dokters gedoen om sover moontlik nie pasiënte jonger as 55 vir toetse te verwys nie.

Lancet het al verlede naweek aangekondig hy beperk toetse in Gauteng en KwaZulu-Natal.

Nadat Suid-Afrika aanvanklik ’n strategie van massatoetsing gevolg het, het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, op 8 Junie aangekondig toetse in die staat se laboratoriums word ook tot spesifieke gevalle beperk. Teen die eerste week van Junie was die uitslag van meer as 100 000 toetse landwyd uitstaande.

Mzi Gcukumana, NHLS-woordvoerder, het bevestig daar is nog net agterstande in veral Gauteng, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Hy kon nie sê hoe groot die agterstand is nie.

Intussen het die reguleringsowerheid vir gesondheidsprodukte steeds geen laboratoriumgegronde serologiese toetse vir teenliggame goedgekeur nie.

Dié toetse kan aandui wie die virus gehad én daarvan herstel het. Dit kan help om die verloop van die pandemie uit te stippel, die doeltreffendheid van moontlike entstowwe te monitor en om potensiële skenkers van post-herstel-plasma te identifiseer.

Meer oor:  Toetse  |  Covid-19  |  Agterstand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.