Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Wêreld het die virus onderskat’

Die wêreld het die virus onderskat.

Só het prof. Alex Sigal, navorser van die Africa Health Research Institute en ook ’n groepleier van navorsers verbonde aan die Max Planck-instituut, Maandagaand op ’n paneelbespreking gesê waartydens kundiges inligting verskaf het oor die nuwe variant van die Covid-19-virus in Suid-Afrika.

Sigal sê daar is kommer dat die variant van die virus so aangepas het dat dit die teenliggaampies van pasiënte wat in die eerste vlaag besmet was, kan ontglip.

Dit is beduidend, want teenliggaampies is die sterkste verdedigingsmeganisme teen nuwe virusse, sê hy.

Die uitslag van studies oor die variant beteken nie dat entstowwe wat reeds ontwikkel is, ondoeltreffend gaan wees teen die variant nie, “maar die wêreld het die virus onderskat; die virus kan ontwikkel en aanpas”, sê hy.

Hy het uitgewys entstowwe is baie kompleks en gaan oor ’n verskeidenheid maniere hoe immuniteit werk. Navorsing oor die variant sal versnel moet word.

Prof. Penny Moore, senior wetenskaplike van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), sê die rede vir die kommer onder navorsers wat die genetiese voorkoms van die variant ondersoek, is dat dit geleer het om teenliggaampies wat virusse identifiseer en dan daarteen veg, te ontduik.

Die verandering in die variant is juis in die deel van die samestelling van die virus wat met menslike selle bind.

Moore sê die bloed van sowat 50 mense wat tydens die eerste vlaag infeksies besmet is, is gebruik in toetse om te bepaal of die teenliggaampies wat daarin gevorm is, die variant as ’n vyand herken. In byna 50% van die gevalle het die teenliggaampies wat vantevore gevorm het, nié die variant herken nie. In die ander 50% het die teenliggaampies in die bloed ’n mate van herkenning vir die variant getoon – maar dit was in die geval van mense wat baie siek was toe hulle gehospitaliseer was. Indien daar baie teenliggaampies in die bloed is om mee te begin, is daar ’n mate van herkenning van die variant, sê Moore.

Dié bevinding is belangrik wanneer die doeltreffendheid van ’n entstof oorweeg word.

Moore sê die uitslag van die laboratorium-toetse is kommerwekkend, maar daar moet eers gewag word op kliniese data om meer uit te vind oor die impak van entstowwe op die variant.

Dr. Richard Lessels, ’n spesialis van oordraagbare siektes aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, het die verskil tussen mutasies en variante verduidelik. Mutasies behels die verandering van ’n virus se genetiese kode en kan die struktuur en funksies van die virus-proteïne verander, sê hy.

In die geval van die 501Y.V2-variant was daar ’n groot aantal mutasies en in dié variant was die mutasies veral in die deel van die virus wat aan menslike selle bind.

“Dit is wat ons bekommer het en hoekom ons dit aangemeld het. Ons het die veranderinge gesien in die virus. Ons het bekommerd geraak dat dit ’n beduidende verandering van die funksie van die virus-proteïene was wat kan beteken dat die virus meer doeltreffend van mens tot mens versprei,” sê Lessels.

Prof. Koleka Mlisana, uitvoerende bestuurder van akademiese sake, navorsing en gehaltebestuur by die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste (NHLS), sê die vraag het ontstaan dat indien dit blyk dat die variant nie bestry word deur vorige immuniteit-reaksies van mense nie, hoe sou dit herinfeksies raak?

Die toetse wat gedoen word, is van toepassing op individue wat besmet was met Covid-19, daarna vir 90 dae vry was van die virus en dan weer besmet is.

In laboratorium-data wat gebruik is vir gevalle voor 6 Januarie, was daar 4 000 herinfeksies in Suid-Afrika, volgens Mlisana. Dit sluit herinfeksies tydens die eerste vlaag in.

Die toetse het gewys daar is nie noodwendig ’n merkbare hoër risiko van herinfeksie weens die variant nie, maar daar moet in ag geneem word dat slegs een maand se data oor die variant beskikbaar is, sê sy.

Data gaan voortdurend gemonitor word om te kyk of daar enige veranderinge is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.