Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Werklading én uitgawes meer, sê ondernemers in NMB

Sommige begrafnisondernemers in die Nelson Mandelabaai-metro se werklading het drasties toegeneem met byna 600 mense wat reeds aan Covid-19 dood is.

Buiten die werklading lei die veranderende inperkingsregulasies ook soms tot verwarring en druk, sê Sello Headbush, Oos-Kaapse voorsitter van die Suid-Afrikaanse vereniging van begrafnisondernemers.

Mense kan dalk ook dink dat begrafnisondernemers munt slaan uit die skielike toename in sterftes, maar die uitgawes aan beskermende kleredrag vat ’n groot hap uit hul begroting.

“Dit kos my nou R5 000 meer per begrafnis en ek mag nie my pryse in dié tyd opstoot nie. Ek moet dit betaal. Ek kan nie my werkers blootstel nie,” sê Johannes Fortuin, eienaar van die Fortuin Funeral Home.

Kiste word by ’n begrafnisondernemer in Commercialweg, Port Elizabeth, afgelewer sou daar ’n skerp toename in sterftes wees. Foto: Lulama Zenzile

Een weggooibare oorpak, wat ’n vereiste is as die lyk van iemand wat aan Covid-19 dood is gehaal moet word, kos R250 en kan slegs twee keer gedra word. Fortuin sê dit neem twee mense om ’n lyk te gaan haal en hulle vervoer nie net een lyk per dag nie.

Ook Andrew Kramer, eienaar van die Kramer Funeral Home, sê die koste van die beskermende kleredrag het die hoogte in geskiet. Dit kos hulle R1 350 ekstra aan beskermende kleredrag vir sy werkers om een persoon wat aan Covid-19 dood is se lyk te verwyder en van punt A tot punt B en tot by die teraardebestelling te neem.

Kramer sê hulle is besig, maar meen die werklading is soortgelyk aan wat hulle ander jare in die winter ervaar. Hulle het wel voorbereidings getref vir die piektyd, deur hul kisvervaardigers op ’n moontlike toename in sterftes voor te berei en deur genoeg beskermende kleredrag aan te koop.

Fortuin sê weer hulle hanteer die afgelope paar weke drie keer meer begrafnisse as voor die pandemie. Soos verlede week, is sy dagboek die res van die week vol bespreek.

Die voorskrif dat dié lyke binne 72 uur begrawe moet word, bied volgens Fortuin uitdagings, veral wanneer die kantoor van binnelandse sake weens ’n koronavirusgeval sluit en dit die proses vertraag vir die uitreiking van ’n doodsertifikaat.

“Daar is ook baie mense wat nie in so ’n kort tyd geld vir ’n begrafnis bymekaar kan maak nie. Polisse betaal nie so gou uit nie en baie mense het in die tyd hul werk verloor. Ons probeer mense tegemoetkom deur te sê hulle kan later betaal, wat daartoe lei dat ek duisende rande nie inkry nie.”

Ondanks dié struikelblokke meen Fortuin die reëling help dat lyke nie ophoop nie.

“As die piek ons tref, gaan dit rof gaan. Daar is ’n moontlikheid dat yskaste kan vol raak as daar langer gewag word om mense te begrawe.

“Daarom sê ek nou as begrafnisondernemer, mense moet luister, hulle moet maskers dra en ’n gesonde afstand hou. Hou kinders en bejaardes weg van begrafnisse, dit is ’n moeilike en emosionele situasie, maar die verspreiding van die virus moet gestop word.”

Intussen het die Oos-Kaapse regering vandeesweek gesê die provinsie sal binnekort midde-in die ergste deel van die Covid-19-storm wees, met die verwagting dat die infeksiekoers binne etlike weke sal verdubbel.

Van 1 tot 29 Julie is 442 sterftes in die metro aangemeld, wat die dodetal tot 578 opgestoot het.

Oor dieselfde tydperk het die infeksiekoers verdubbel en is daar teen Donderdag 19 750 infeksies in die metro aangemeld.

Begrafnisondernemers in beskermende kleredrag terwyl hulle ’n Covid-19-sterfte hanteer. Foto: Lulama Zenzile

Headbush het Donderdag gesê die enigste kans wat die Oos-Kaap en die metro het om die verwagte sterftes tydens die piek te hanteer, is oop kommunikasie en duidelik uiteengesette, skriftelike regulasies.

Vrese vir onvoldoende plek in die metro se begraafplase het ook intussen opgevlam.

Volgens Leander Kruger, DA-woordvoerder oor gesondheid in die metro, is die stad se begraafplase ongeveer 60% vol, met bykans geen gebeurlikheidsplanne indien massagrafte skielik nodig sou wees nie.

“Tot dusver is nie veel meer gedoen nie behalwe om die Motherwell-begraafplaas as ’n terrein vir massagrafte te identifiseer.”

Boonop werk een van die twee krematoriums in die metro reeds 24 uur om voor te bly. Kruger sê tydens onlangse navrae aan die twee krematoriums is aangedui dat die krematorium in Forest Hill nog nie sy lisensie se kapasiteit oorskry nie, terwyl die een in Despatch bykans dag en nag werk om voor te bly.

“Daar is sprake van aansoeke vir ’n lisensie wat hul kapasiteit vergroot, asook om nog ’n oond te bekom.”

Dit kos my nou R5 000 meer per begrafnis en ek mag nie my pryse in dié tyd opstoot nie. Ek moet dit betaal. Ek kan nie my werkers blootstel nie.

Hoewel hy glo dat die krematoriums die druk sal kan hanteer, is hy bekommerd oor die moontlikheid dat ander distrikte wat sukkel met die werklading, en glo reeds voelers uitsteek het, oorweeg om lyke na die metro vir verassing te stuur. “Sou dit gebeur, sal ons in die moeilikheid wees.”

Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê die metro het proaktief opgetree met die Covid-19-pandemie, veral wat grafte betref, en meen die metro is gereed om ’n toename in sterftes te hanteer.

Hoewel Mniki sê gemiddeld word 285 begrafnisse per maand in die metro gehou, het ’n hooggeplaaste bron gesê voor die pandemie het die metro reeds sowat 990 begrafnisse in ’n maand gehad. Die getal wissel nou tussen 1 400 en 1 500, het die bron gesê.

Uit die metro se 36 begraafplase kan slegs 11 vir nuwe grafte gebruik word. Mniki sê die metro is besig om nuwe grond vir begraafplase te bekom en die proses is in ’n gevorderde stadium. Daarby sal twee bestaande begraafplase ook binnekort uitgebrei word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.