Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Werksverliese en honger eis sy tol

April was ’n allerverskriklike maand in Suid-Afrika, met nagenoeg drie miljoen mense wat hul werk verloor het en 47% van huishoudings wie se geld vir kos voor die einde van die maand opgeraak het.

Maar die groot vrees onder akademici is dat dié maand net die begin van ’n baie groter langtermyn-nagmerrie was wat oor maande, jare of selfs generasies heen mense in armoede gaan vasvang. Dit is omdat nie almal ná die Covid-19-krisis hul werk gaan terugkry nie, mense skuld moes aangaan of hul spaargeld opgebruik het en dus weinig reserwes meer het waarop hulle kan terugval, en omdat Suid-Afrika se stelsel vir maatskaplike sekerheid – toelae en voedselhulpskemas – tekortskiet om die nood te verlig.

Nagenoeg 2,2 miljoen Suid-Afrikaners het in April honger gely. In dié maand het 47% van huishoudings se geld om kos te koop voor die einde van die maand opgeraak. Dit is meer as dubbeld die 21% van mense wat vóór die inperking in ’n gegewe maand nie genoeg kos kon bekostig nie.

Die syfers wys dat ouers hul kinders so lank as moontlik teen die honger sal beskerm as daar te min kos vir almal is – 22% van volwassenes was in die sewe dae voordat hulle daaroor gevra is honger, maar slegs 15% van kinders in daardie huishoudings was honger.

grafika

Hoe erger die nood, hoe moeiliker was dit egter om kinders teen honger te beskerm. 7% van die respondente het gesê iemand in die huishouding het elke dag of byna elke dag honger gely, en in dié huishoudings met kinders moes 4% elke dag of byna elke dag honger ly.

Die toename in hongersnood is veral kommerwekkend omdat kinders weens wanvoeding groei- en verstandelike agterstande opdoen wat hulle nooit heeltemal kan uitwis nie, selfs al kry hulle later wel genoeg kos.

Die syfers kom uit ’n reeks studies wat die omvattendste navorsing nóg verteenwoordig van die impak van die inperking wat weens die Covid-19-pandemie ingestel is. Dit staan gesamentlik bekend as die National Income Dynamics Study Coronavirus Rapid Mobile Survey (Nids-Cram).

Meer as 30 navorsers van Suid-Afrikaanse en selfs buitelandse universiteite soos Harvard en Oxford het inligting uit ’n peiling onder meer as 7 000 Suid-Afrikaners verwerk wat redelik verteenwoordigend van die samelewing is. Die eerste golf navorsing is gister uitgereik en handel veral oor April, die maand waarin die strengste vlak van inperking gegeld het.

Die navorsing onder dieselfde individue gaan vanjaar nog vier keer herhaal word.

In ’n bespreking van die resultate van die Nids-Cram-studies het prof. Murray Leibbrandt van die Universiteit van Kaapstad gesê dit lig die ongelykheid wat reeds vóór die inperking welbekend was uit en van die resultate – soos dat miljoen mense bykomend in armoede gedompel is – sou voorspel kon word.

Hy sê hy beskou die Nids-Cram-studies as ’n bewys dat Suid-Afrika se beleid vir maatskaplike sekerheid onvoldoende is om mense teen hongersnood te beskerm. Dis ook ’n aanklag teen die administratiewe tekortkoming in die staat, en hy sê opvolgstudies sal toon wat die gevolge van die stadige inwerkingstelling van hoër toelae en die nuwe noodtoelae van R350 per maand gaan wees.

Prof. Ruth Hall van die Universiteit van Wes-Kaapland het in haar ontleding gesê baie van die navorsers is te versigtig oor die gevolgtrekkings oor beleid wat hulle maak. Van die aanbevelings van verskillende navorsers is onder meer dat die verhoging in toelae wat vir ses maande (van Mei tot Oktober) ingestel is permanent moet word.

Hall sê die resultate van die peiling is een van die beste betoë nóg vir ’n universele toelaag aan alle Suid-Afrikaners. Dit is iets wat juis in die nuus is nadat Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, eers gesê het die regering oorweeg ’n maatskaplike toelaag en net ’n dag later gesê het “baie tyd moet nog verloop” voordat só ’n toelaag ’n werklikheid kan word.

Leibbrandt en Hall het nie self van die Nids-Cram-navorsing gedoen nie.

Meer oor:  Armoede  |  Armes  |  Honger  |  Inperkingsregulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.