Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Wes-Kaap oorweeg nog opsies om virus te stuit

Die Wes-Kaapse regering is steeds besig om kop te krap oor hoe om die stygende koronavirusgevalle en hospitaalopnames van mense met Covid-19 in die provinsie te stuit.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap. Foto: Skermgreep

Daar word na ’n verskeidenheid opsies gekyk, insluitend die moontlikheid om mini-inperkings in te stel in sekere dele waar die virus weer handuit ruk, en of daar ander opsies beskikbaar is om ’n streng inperking te vermy.

“In hierdie stadium is nog geen besluit geneem oor gelokaliseerde inperkings nie, en ons soek steeds regsadvies oor wat moontlik is, aangesien ramp-inperkings deur die nasionale regering ingestel word en nie deur provinsies nie,” sê Alan Winde, premier van die Wes-Kaap.

Die provinsiale regering was teen Maandag steeds baie bekommerd oor die skerp stygings in die Tuinroete en die Kaapstad-metropool.

Volgens Winde is die toename in nuwe koronavirusgevalle veels te hoog en oorweeg die provinsie alle opsies om dit onder beheer te bring.

Winde het verlede Vrydag weer sy weeklikse strategievergaderings ingestel, waar oplossings bespreek word, en wat dan deel uitmaak van sy weeklikse kabinetsvergadering, waar besluite geneem word.

“As ’n verantwoordelike regering oorweeg die provinsie ’n verskeidenheid verskillende opsies en benaderings om die stygende Covid-19-gevalle in die provinsie te takel, sodat ons volledig voorbereid is en kan verseker dat ons gesondheidstelsel nie oorweldig word nie,” sê Winde.

Hy sal Donderdag op sy weeklikse aanlyn digitale nuuskonferensie hul plan van aksie bekend maak.

Volgens die premier is hulle prioriteit om ’n streng staat van inperking te vermy, wat die provinsie se hele ekonomie sal benadeel.

Winde sê die beste en vinnigste manier om dit te doen, is deur individue, ondernemings en die burgerlike samelewing te kry om hul rol te speel deur hul gedrag te verander.

“Ons moet toesien dat elke persoon ’n masker dra, skares en nienoodsaaklike byeenkomste vermy word en die handhawing van ’n gesonde afstand te alle tye toegepas word. As ons hierdie maatreëls volg, kan ons ’n groot verskil aan hierdie nuwe Covid-19-gevalle maak.”

Winde sê dit behoort nou elke mens se prioriteit te wees om hulself en ander teen die virus te beskerm.

Winde sê dit behoort nou elke mens se prioriteit te wees om hulself en ander teen die virus te beskerm.

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, wat ook aan die hoof van die provinsie se rampbestuur staan, sê die provinsie het reeds die gesamentlike provinsiale operasionele sentrum opdrag gegee om die veiligheidsgroepering te koördineer om inspeksies te doen by uithangplekke, dansplekke en plekke waar mense kuier en saamdrom.

Bredell sê indien nodig sal padblokkades ingestel word en word taxi’s reeds gestop om te sien of mense hul maskers dra.

Intussen het die getal aktiewe gevalle in die provinsie teen Maandagmiddag tot 10 057 gestyg nadat 730 nuwe gevalle in die voorafgaande 24 uur aangemeld is. Daar is 1 104 mense in die hospitaal opgeneem, waarvan 190 in die waakeenheid is. Covid-19 het reeds die lewe van 4 644 mense geëis.

Meer oor:  Alan Winde  |  Virus  |  Toename
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.