Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Wes-Kaap verwag entstowwe Vrydag, nóg volgende week

Die Wes-Kaap ontvang Vrydag nog 93 600 dosisse van die Pfizer-entstof, wat daarop dui dat die toevoer van inentings na die provinsie begin stabiliseer.

So sê dr. Keith Cloete, hoof van die provinsiale gesondheidsdepartement, Donderdag op Alan Winde, die premier, se weeklikse virtuele nuuskonferensie.

Cloete sê ná Vrydag word daar nog verdere aflewerings vir die Wes-Kaap verwag van die Pfizer- én Johnson & Johnson-entstowwe.

“Ons het bevestiging dat die voorraad van entstowwe binne die volgende twee weke gaan toeneem,” sê hy.

Hy sê verlede week, tussen 12 en 18 Julie, is 151 772 mense in die provinsie ingeënt. Dit is die meeste wat tot dusver in een week ingeënt is. Volgens Cloete is die veldtog nou goed op dreef nadat die beskikbaarheid van entstowwe verbeter het.

Winde sê in ’n verklaring: “Die Wes-Kaap sien ’n stabilisering van die derde vlaag (van infeksies) en daar word verwag die piek sal laer wees as met die tweede vlaag.

“Dit beteken dat ons gevorderde beplanning vir die derde vlaag vrugte afwerp en dat ons steeds genoeg beddens, suurstof en personeel het om inwoners in hierdie tyd van groot druk te versorg.”

In die eerste drie dae van vandeesweek, in week tien van die inentingsveldtog, is 90 474 mense reeds ingeënt in die provinsie. Dit is ten spyte van onderbrekings by sommige inentingspersele, soos in Guguletu, weens taxigeweld.

Van almal wat tot dusver ingeënt is in die provinsie, is 75% deur die openbare sektor ingeënt teenoor 25% deur die private sektor.

Cloete sê die departement se data oor infeksies onder gesondheidswerkers toon baie duidelik dat inentings direk lei tot ’n skerp afname in infeksies.

“In Junie 2020 tydens ’n kleiner vlaag as hierdie een, was 1 907 gesondheidswerkers besmet. In Desember was 2 328 gesondheidswerkers siek. Nou, tydens wat ons beskou as die hoogtepunt van die derde vlaag, is daar net 679 gesondheidswerkers met die virus.

“Die syfer is merkbaar laer en as daar enige bewyse nodig is dat die inentings werk, spesifiek die J&J-inentings, is dit hierdie getalle,” sê Cloete.

Hy sê daar is tans 72 inentingsentrums in die Kaapstad-metro en daar word beplan om nog 82 te open.

In die landelike gebiede soos die Overberg, Tuinroete, Weskus, Kaapse Wynlande en Sentraal-Karoo is daar altesaam 144 sentrums, met nog 207 wat later sal open.

Daar is 118 sentrums van die private sektor, waarvan 85 in die Kaapstad-metro en 33 in plattelandse gebiede. Daar is ook spanne wat uitgaan na sekere gebiede om inentings daar toe te dien.

grafika

Meer oor:  Infeksies  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.