Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
WGO-spesialiste in SA ontplooi
Dr. David Heymann, ’n ervare epidemioloog, is een van 43 spesialiste van die Wêreldgesondheidsorganisasie wat in Suid-Afrika ontplooi word. Foto: WGO

“Twee koppe is beter as een,” sê dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, oor die spesialiste van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) wat eersdaags in Suid-Afrika ontplooi word.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Woensdag gesê 43 senior epidemiologiese spesialiste word deur die WGO na Suid-Afrika gestuur, waarvan 17 reeds Woensdag geland het. Een van hulle is dr. David Heymann, ’n ervare epidemioloog in die veld van aansteeklike siektes en kundige oor openbare gesondheid.

“Ek is ook bly dat dr. Mike Ryan die span uit Genève sal lei, op Suid-Afrika sal fokus en ons deurlopend advies sal gee en strategieë sal ontleed, insluitend die besluite wat ons as die departement van gesondheid in reaksie op Covid-19 geneem het,” sê Mkhize.

Volgens Coetzee is die spesialiste op die WGO se koste in Suid-Afrika ontplooi. “Ons sal hulle bystaan met administratiewe hulpbronne soos rekenaars en data vir voorspellings van die pandemie.”

Sy sê die spesialiste sal die departement van gesondheid onder meer bystaan om gevalle te bestuur en te probeer beperk, om voorspellings te maak en data te ontleed en ook in die bestuur van die verkrygingsproses van hulpbronne soos persoonlike beskermende toerusting (PPE’s).

Coetzee, wat ook deel is van die ministeriële advieskomitee vir Covid-19, sê hulle gaan in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, die Vrystaat en Mpumalanga ontplooi word en ook provinsiale gesondheidsdepartemente bystaan. “Hierdie ouens kan ons vertrou en ons sal beslis by hul kennis baat vind.”

Sy praat met lof van veral Heymann wat tans die WGO se assistent-direkteur-generaal vir gesondheidsveiligheid en die omgewing is en voorheen die uitvoerende direkteur vir oordraagbare siektes was. “Hy het ervaring van die Ears- (ernstige akute respiratoriese sindroom)pandemie en verstaan ook hoe oordraagbare siektes in die Afrika-konteks werk,” sê Coetzee.

Die WGO het Woensdag by monde van sy plaaslike verteenwoordiger, dr. Owen Kaluwa, gesê aangesien Suid-Afrika nou onder die topvyf lande in die wêreld is ten opsigte van die bevestigde getal infeksies, is dit noodsaaklik om sy reaksie op die pandemie te versterk.

“Ons kollektiewe pogings is nodig om gevalle te identifiseer, te isoleer en versorging te voorsien, kontakpersone op te volg en om die handhawing van ’n veilige afstand en ander belangrike openbare gesondheidsmaatreëls ten volle toe te pas. Só sal ons die verspreiding en invloed van die koronavirus tot die minimum beperk,” sê Kaluwa.

Die WGO-spesialiste sal eers deur die voorgeskrewe tydperk vir kwarantyn en toetsing gaan voordat hulle in die land ontplooi word.

Meer oor:  Koronavirus  |  Wgo  |  Covid-19  |  Zweli Mkhize
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.