Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Wie is ‘pasiënt zero’ wat virus wêreldwyd versprei het?

Terwyl dansers in Januarie vanjaar op ’n konferensie in ’n luukse hotel in Singapoer tussen die tafels gelaai met waterbottels, penne, notaboeke en skootrekenaars gedans het, het die konferensiegangers min geweet dat iemand met ’n dodelike virus dalk tussen hulle is.

Afgevaardigdes van die Britse maatskappy Servomex, wat gasmeters vervaardig, het foto’s van die geleentheid in die Grand Hyatt Hotel geneem, terwyl die draer van die nuwe koronavirus (Covid-19) dalk reeds in die vertrek of in die nabye omgewing was.

Drie weke nadat die virus na vyf lande, waaronder Suid-Korea en Spanje, versprei het, probeer die owerhede steeds vasstel wie die persoon is wat met Covid-19 by die konferensie ingestap het.

Kenners sê dit is van kritieke belang dat die draer opgespoor word sodat mense wat aan die virus blootgestel is, opgespoor kan word en die verspreiding in bedwang gebring kan word. Soos die tyd vorder, word dit egter al hoe moeiliker om dié persoon op te spoor.

“Ons is natuurlik ongemaklik daarmee wanneer ons die virus by iemand diagnoseer maar nie kan vasstel waar dit vandaan gekom het nie . . . dit maak die pogings om dit te bedwing minder doeltreffend,” het Dale Fisher, voorsitter van die Global Outbreak Alert and Response Network, wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gekoördineer word, gesê.

Die owerhede soek die eerste persoon wat die nuwe koronavirus opgedoen het. Foto: Reuters

Een van die afgevaardigdes was van Wuhan in Sentraal-China, waar die virus in Desember 2019 in ’n kosmark uitgebreek het, vermoedelik nadat iemand wildsvleis verkoop het wat met die virus besmet was.

’n Woordvoerder van Servomex het egter aan Reuters gesê niemand van die Chinese afvaardiging het positief vir Covid-19 getoets nie.

Kenners het die konferensie in Singapoer met ’n soortgelyke voorval in 2003 in ’n Hongkongse hotel vergelyk toe ’n siek Chinese dokter die Ears-virus (ernstige akute asemhalingsindroom) onder lede gehad het en dit daarna wêreldwyd versprei is.

Al het hy ’n ondersoek na die hotel in Singapoer begin, meen die WGO egter dat dit nog te vroeg is om dié twee gevalle met mekaar te vergelyk. Dit was meer as ’n week ná die konferensie in Singapoer dat die eerste geval in Maleisië aangemeld is.

Volgens Servomex het hy onmiddellik daarna stappe gedoen om te verseker dat die virus nie versprei nie.

Altesaam 109 konferensiegangers, van wie 94 van ander lande wat Singapoer reeds verlaat het, is in isolasie geplaas.

Maar die virus het aangehou versprei

Twee afgevaardigdes van Suid-Korea het siek geword nadat hulle by dieselfde buffet-ete as die besmette persoon van Maleisië was. Die persoon het die virus ook aan sy suster en skoonma oorgedra.

Drie van die firma se werknemers wat op die konferensie in Singapoer was, het ook positief vir die virus getoets.

Daarna is gevalle van die virus in Europa aangemeld.

’n Britse konferensieganger is daarna na ’n ski-oord in Frankryk, waar nóg vyf mense die virus opgedoen het.

Nóg ’n geval is daarna in Spanje aangemeld, terwyl die Brit intussen terug is huis toe en die virus verder versprei het.

Terug in Singapoer het die owerhede gesukkel om by te hou met al die nuwe gevalle van die virus wat aangemeld word.

Bestuurders van die Grand Hyatt Hotel sê die gebou is ontsmet, en personeellede en gaste word vir die virus gemonitor. Daar kon egter nog steeds nie uitgepluis word hoe, waar en wanneer die konferensiegangers met die virus besmet is nie. Ook die dansers wat tussen die tafels gedans en foto’s van die geleentheid op Facebook geplaas het, sê hulle het nie positief vir die virus getoets nie.

Paul Tambyah, ’n kenner van aansteeklike siektes aan ’n universiteit in Singapoer, sê dit is baie belangrik dat die persoon wat die virus oorspronklik opgedoen het, gevind word.

“Almal aanvaar dit is ’n afgevaardigde, maar dit kon ook ’n kelner of skoonmaker gewees het,” sê Tambyah.

Die tyd raak min

Kenneth Mak, minister van gesondheid in Singapoer, sê hulle sal aanhou probeer om die oorspronklike draer op te spoor, hoewel dit moontlik is dat dié persoon dalk nooit gevind sal word nie.

Die Chinese regering het Vrydag bekend gemaak dat 116 mense Donderdag aan Covid-19 dood is, terwyl 4 823 nuwe gevalle in die stad Wuhan aangemeld is.

Luidens die jongste beskikbare syfers het 65 191 mense reeds wêreldwyd die virus opgedoen, terwyl 1 486 slagoffers al wêreldwyd gesterf het.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het gesê hy het teen Donderdag 67 mense in Suid-Afrika vir die virus getoets, maar daar is nog geen positiewe gevalle van die virus in die land nie. - Reuters

Meer oor:  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.