Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Winde: Nie onwettig vir W-Kaap om self entstof te kry

Daar is niks onwettigs daaraan vir die Wes-Kaap om die regering se sentrale aankopeproses te systap en self entstowwe te bekom nie.

So het Alan Winde, premier, Donderdag in ’n verklaring gesê oor die provinsiale regering se aanvullende pogings tot dié van die nasionale regering om voorraad te kry.

Kommer heers dat die Suid-Afrikaanse regering nie vinnig genoeg entstowwe sal bekom nie, juis omdat beweer word dat hy aanvanklik met onderhandelings gesloer het.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Maandag op ’n nuuskonferensie beklemtoon dat die nasionale regering die alleen-aankoper van entstowwe sal wees.

Dit sou onverantwoordelik wees van ons regering om agteroor te sit en niks te doen nie, wanneer dit duidelik is dat daar nie tans genoeg entstowwe vir die Wes-Kaap verseker is nie.
Alan Winde

“Geen provinsie het die gesag om ooreenkomste met vervaardigers aan te gaan nie,” het hy gesê.

Winde het egter gesê hy stem nie hiermee saam nie, en dat die Wes-Kaap entstowwe “sal aanvaar” as hulle meer daarvan kan bekom. Dit is volgens hom ook die regte etiese en morele stap om te doen.

“Dit sou onverantwoordelik wees van ons regering om agteroor te sit en niks te doen nie, wanneer dit duidelik is dat daar nie tans genoeg entstowwe vir die Wes-Kaap verseker is nie.

“Namate die tyd aanbeweeg, kom al hoe meer inligting aan die lig oor hoe die nasionale regering ongelukkig die bal laat val het oor hierdie lewensreddende ingryping.”

Winde het dit duidelik gestel dat die provinsiale regering nie met vervaardigers begin onderhandel het nie, hoewel gesprekke oor die kwessie op plaaslike en internasionale vlak gevoer word.

“Daar is egter ’n beperkte voorraad wêreldwyd omdat baie lande vroegtydig bestellings geplaas het. Ongelukkig is Suid-Afrika nie een van hulle nie, en dis daarom, uit die perspektief om die risiko te verklein, dat ons bykomende entstof soek,” het Winde gesê.

Weens die beperkte voorraad wil die provinsiale regering eers bepaal hoeveel entstowwe beskikbaar is, waar dit verkry sal kan word en hoe vinnig dit verskaf kan word. Volgens Winde kan die private sektor ’n rol speel en wil die provinsiale regering toegang tot soveel moontlik dosisse ontsluit.

Winde het Woensdag op ’n paneelbespreking van die DA gesê hulle gee veral aandag daaraan om die AstraZeneca-entstof te bekom. Voorts sal hulle slegs entstowwe probeer bekom wat waarskynlik deur die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad goedgekeur sal word.

Volgens Winde kan die aankoop van die entstowwe gefinansier word deur die huidige begroting vir die Wes-Kaap te herprioritiseer, en indien nodig sal “reserwes” gebruik word.

Suid-Afrika sal na verwagting binnekort 1 miljoen dosisse van die AstraZeneca-entstof van die Serum-instituut in Indië bekom. Die inenting van gesondheidsorgwerkers sal glo in Februarie begin.

Winde het gesê die Wes-Kaap is hard aan die werk om ’n databasis saam te stel van gesondheidsorgwerkers sodat die verspreiding van entstof gemonitor word.

“Ons moet weet wie die werkers is, en waar hulle in die provinsie is. Ons sal die verspreiding as ’n leerskool gebruik. Nadat die eerste dosis toegedien is, moet jy ’n SMS-boodskap ontvang wat jou inlig dat jou volgende afspraak vir ’n tweede dosis oor 28 dae is. Ons moet genoeg handskoene en spuitnaalde kry. Dit is baie ingewikkeld.”

Meer oor:  Alan Winde  |  Wes-Kaap  |  Entstof  |  Covid-19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.