Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Winde: W-Kaap verby piek, vra dat inperkings verslap word
Alan Winde, Wes-Kaapse premier. Foto: Malherbe Nienaber

Die Wes-Kaap begin vroeë tekens van ’n afname in gevalle van Covid-19 en hospitalisasies toon, met die provinsiale regering wat versoek dat inperkings dringend verslap word.

Alan Winde, premier, het Dinsdag op ’n aanlyn mediavergadering gesê inwoners moet aanhou werk om die infeksiekurwe te laat afplat en niemand kan bekostig om nie op hul hoede te wees nie.

Hy het daarop gewys dat die positiwiteitskoers vir Covid-19-toetse aanhou daal, sowel as die gebruik van suurstof in hospitale.

Volgens Winde moet daar nou weer op die “ander pandemie” van honger en werkloosheid gefokus word en moet die ekonomie beskerm word.

Noudat die piek bereik is, voer hy aan dat strande moet heropen, die aandklokreël eers later moet begin en drankverkope weer toegelaat word.

Winde het egter benadruk dat die provinsiale regering nie vra dat inperkings in geheel opgehef moet word nie en toestande deurlopend gemonitor sal word.

Hy het in ’n brief aan dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, gevra vir dringende wysigings aan die inperkings, soos die heropening van strande en ander openbare ruimtes, dat die aandklokreël van 23:00 tot 04:00 verander word en drankverkope vir gebruik van die perseel af van Maandag tot Donderdag toegelaat word.

Verder het Winde gevra dat verkope op wynplase oor naweke mag plaasvind en drankgebruik op gelisensieerde persele toegelaat word, onderhewig aan die regulasies en aandklokreël.

covid-19, wes-kaap

Dr. Nomafrench Mbombo, LUR vir gesondheid, het haar kommer uitgespreek oor mense wat gevoelens teen entstowwe en ontkenning van die wetenskap aanmoedig, veral waar ander ontmoedig word om die entstof te ontvang.

Sy sê mense moet onthou dat kinders jaarliks teen dodelike siektes ingeënt word, sowel as reisigers wat ’n entstof teen geelkoors ontvang en mense met wonde wat teen tetanus ingeënt word.

“Ons hoor ook nooit van mense wat teen die gebruik van suurstof of ventilators vir pasiënte gekant is nie.”

Mbombo het benadruk dat mense ’n demokratiese en mensereg het om toegang tot die entstof te kry en dat dit nie verpligtend is nie, maar die reg van ander om dit te neem moet eerbiedig word.

Dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, en dr. Nomafrench Mbombo, LUR vir gesondheid. Foto: Jaco Marais

Dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, sê al die aanduiders wys dat die provinsie uit die piek van ’n tweede vlaag beweeg, met gevalle en hospitalisasies wat lyk of dit begin afneem en sterftes wat ’n plato bereik het.

Dit sluit in die toetspositiwiteit wat teen 14 Januarie tot 29,6% gedaal het, van waar dit op ’n hoogtepunte van meer as 50% gestaan het.

Afnames in nuwe gevalle word in die Kaapstad-metropool, Kaapse Wynlande en Overberg gesien, met die Tuinroete wat aanhou daal nadat dié distrik vroeër sy piek gehad het.

Die Weskus is tans die enigste distrik wat ’n toename ervaar en Cloete sê ’n afname word teen die einde van die week verwag.

Tans is daar 3 512 Covid-19-pasiënte in hospitale oor die provinsie heen, waarvan 1 977 in staatshospitale en 1 535 in privaat hospitale is.

Hospitale in die metro het ’n gemiddelde besettingskoers van 93%, terwyl dit 60% in George is, 76% in die Paarl en 67% in Worcester.

Volgens Cloete maak gevalle van Covid-19 en mense wat daarvoor getoets word 31% van die kapasiteit van hospitale in die metro en landelike distrikte uit.

Die massasterftesentrum by die Tygerberg-hospitaal het tans 85 lyke en het al 1 139 in geheel ontvang.

Die Brackengate-veldhospitaal in Kaapstad het 299 pasiënte, die Hospitaal van Hoop by Mitchells Plain 136 en die Sonstraal-hospitaal in die Paarl het 61 pasiënte.

Cloete sê die suurstofgebruik van staats- en privaat hospitale het gesamentlik ’n piek van 80 ton per dag bereik en staan nou op 72,8 ton per dag. Die verskaffer Afrox se aanleg in Kaapstad het ’n maksimum kapasiteit van 70 ton per dag.

Die provinsie se besteding op suurstof het ook gestyg van R5 miljoen per maand tot R15 miljoen, volgens Cloete.

Hospitale het 199 ton suurstof in tenks geberg en die provinsiale regering het 153 ton se reserwes.

Verder het Cloete benadruk dat entstowwe gebruik kan word om die pandemie tot ’n einde te bring, die kanse van ernstige siekte en sterftes verminder, oordrag van die virus verminder en sal help om die gesondheidstelsel te beskerm.

Na raming sal vyf miljoen mense in die provinsie die entstof in drie fases ontvang, met 105 000 mediese werkers, versorgers en mediese studente wat in die eerste fase geteiken word.

Kyk die volle uitsending hier.


Meer oor:  Dr. Keith Cloete  |  Alan Winde  |  Koronavirus  |  Wes-Kaap  |  Tweede Vlaag  |  Pandemie  |  Piek  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.