Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Wits hoor môre oor koshuise, ander universiteite sê oor ontruiming

Twee studente van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) sal Donderdag hoor of hulle die universiteit kan verhoed om koshuise te ontruim.

Die Gautengse hooggeregshof het Woensdag ’n dringende aansoek deur Leratoe Moela en Matsobane Shaun Matlhwana aangehoor waarin hulle vra dat Wits verhoed moet word om sy koshuise teen Donderdagaand te ontruim.

’n Student van Wits het Sondag positief vir Covid-19 getoets.

Die universiteit het Maandag besluit dat alle koshuise binne 72 uur ontruim moet word.

Moela en Matlhwana is albei koshuisinwoners en vra in hul aansoek dat die universiteit eers moet seker maak dat studente getoets word vir die virus voordat hulle huis toe gestuur word om te verhoed dat die virus verder versprei.

Wits staan die aansoek teen en het vroeër gesê die aansoek is onverantwoordelik en roekeloos en belemmer die stryd teen Covid-19.

Volgens Shirona Patel, ’n woordvoerder vir die universiteit, is 50% van toelae vir studente wat daarvoor kwalifiseer vroeër betaal om hulle in staat te stel om huis toe te gaan.

“Die universiteit tref ook nou alternatiewe reëlings vir internasionale studente wat nie huis toe kan gaan nie en hanteer elke geval individueel en op meriete,” sê sy.

Wat sê ander universiteite oor koshuise

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, het Dinsdag aangekondig alle openbare tersiêre instellings word weens Covid-19 onmiddellik gesluit.

Die plan is dat hulle teen 15 April weer hul deure open, afhangend van die verloop van die uitbreking in Suid-Afrika.

Volgens Nzimande berus die keuse om koshuise te ontruim by die onderskeie instellings en moet hulle self strategieë vir die koshuise ontwikkel.

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) sê weens uitdagings om alternatiewe blyplek te kry kan studente tydens die vakansie in die koshuise aanbly.

“Baie studente het wel reeds besluit om vir eers uit die koshuis te trek,” sê ’n woordvoerder vir UJ, Herman Pretorius.

Volgens Louis Jacobs, woordvoerder vir die Noordwes-Universiteit (NWU), sal studente wat nie die koshuis kan verlaat nie, na aangewese koshuise verskuif word.

“Hulle moet egter ’n sosiale afstand handhaaf en hul higiëne opskerp.”

Eetsale by die NWU sal oopbly.

Die Universiteit van Pretoria (UP) het besluit om koshuise te sluit en alle studente is gevra om die geboue teen Donderdagoggend 10:00 te verlaat.

“Indien ’n student die koshuis nie kan verlaat nie, moet hulle die koshuishoof nader vir verdere ondersteuning en bystand,” sê prof. Tawane Kupe, vise-kanselier van die UP.

Eetsale sal van Donderdag af beperkte dienste lewer.

Studente wat weens internasionale reisbeperkings of dringende akademiese verpligtings en navorsing nie huis toe kan gaan nie, kan aansoek doen om in die koshuis te bly.

Dié aansoeke sal individueel oorweeg word.

Luidens ’n verklaring op die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) se webwerf moet studente die koshuise teen Vrydag ontruim.

“Studentekoshuise is groot, gemeenskaplike leefruimtes wat ’n beduidende risiko van grootskaalse blootstelling en verspreiding van virusse in die algemeen inhou.

“Die UKZN se internasionale kantoor is in kontak met verskeie ambassades om internasionale studente by te staan om terug te keer huis toe.”

Meer oor:  Korona-Virus  |  Wits  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.