Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Wits-navorsers aan voorpunt met vigs-deurbraak

’n Nuwe deurbraakmiddel wat net een keer elke agt weke ingespuit word om te voorkom dat iemand MIV kry, kan moontlik binne die volgende twee jaar beskikbaar wees.

Dié middel, bekend as cabotegravir (CAB LA), is baanbrekerswerk waarby navorsers verbonde aan die internasionale MIV-voorkomingstoetsnetwerk betrokke was.

Dit is hoogs doeltreffend, het weinig newe-effekte en is makliker om te gebruik as die bestaande medisyne wat daagliks in pilvorm geneem word.

Dr. Sinead Delaney-Moretlwe, navorsingsprofessor aan die Universiteit van die Witwatersrand en navorsingsdirekteur van die instituut vir voortplantingsgesondheid en MIV aan dié universiteit, het ’n studie gelei waaraan meer as 3 000 vroue in verskeie lande in Suider-Afrika deelgeneem het. Dis die eerste studie onder vroue hier waar die doeltreffendheid van CAB LA teenoor die pil tenofovir/emtricitabine (TDF/FTC) getoets is. Die pil word daagliks gedrink.

Dr. Sinead Delaney-Moretlwe, navorsingsprofessor aan die Universiteit van die Witwatersrand en navorsingsdirekteur van die instituut vir voortplantingsgesondheid en MIV aan dié universiteit. Sy het die deurbraakstudie gelei. Foto: Verskaf

Delaney-Moretlwe sê die studie bied veral hoop vir vroue in Afrika, waar die voorkoms van MIV/vigs geweldig hoog in veral sekere lande in Suider-Afrika is, insluitend Suid-Afrika. “Ons weet dis soms ’n uitdaging vir mense om te onthou, óf gewillig te wees om elke dag ’n pil te drink. Partykeer kan hulle ook nie weens ander mediese redes. Die inspuiting is daarom ’n belangrike alternatiewe voorkomingsmaatreël.”

Delaney-Moretlwe sê tydens die studie het boonop geblyk die inspuiting is byna 90% meer doeltreffend as die pille. “Die pille is reeds baie doeltreffend. Met die gebruik van die inspuiting sal na raming net sowat een uit 100 vroue jaarliks MIV opdoen. Die studie gaan nog voort, maar tot dusver is daar geen beduidende newe-effekte met die inspuiting nie, ook nie op organe soos die lewer nie. Dis dus veilig om te gebruik en word goed verdra.”

Al die vroue wat aan die studie deelgeneem het, was aanvanklik MIV-negatief. Later het 38 positief getoets. Net vier van hulle was onder die deelnemers wat die inspuiting gekry het, terwyl die ander 34 onder die groep was wat die pille gedrink het. Sowat 34% van die vroue wat aan die studie deelgeneem het, het ’n lewensmaat wat met MIV leef, of ’n lewensmaat wie se status onbekend is.

Delaney-Moretlwe sê dis ’n lang proses om die middel gereed te kry vir die mark omdat verskeie organisasies (ook internasionaal) dit moet goedkeur, riglyne neergelê en pryse vasgestel moet word. Met die vasstelling van die pryse sal in ag geneem word dat die middel toeganklik moet wees, is op Dinsdag se mediakonferensie gesê.

Van die vrywilligers wat aan die studie deelgeneem het. Foto: MIV-voorkomingstoetsingnetwerk
Van die vrywilligers wat aan die studie deelgeneem het. Foto: MIV-voorkomingstoetsingnetwerk
Prof. Helen Rees, uitvoerende direkteur van die Universiteit van die Witwatersrand se instituut vir voortplantingsgesondheid en MIV. Foto: Verskaf
Van die vrywilligers wat aan die studie deelgeneem het. Foto: MIV-voorkomingstoetsingnetwerk

Prof. Helen Rees, uitvoerende direkteur by Wits se MIV-navorsingseenheid, sê 25% van die gemiddeld 240 000 nuwe MIV-gevalle jaarliks in Suid-Afrika is onder jong vroue. “Hierdie studie is juis so ’n geweldige mylpaal weens die groot behoefte vir voorkoming. Dit lê ook die grondslag vir verdere studies om die veiligheid vir tieners, asook swanger en borsvoedende vroue te toets.”

Prof. Zeblon Vilakazi, visekanselier by Wits, het Wits se navorsingspan gelukgewens met hul suksesvolle leiding in die studie. “Dit beklemtoon die belangrike rol wat navorsingsorganisasies en universiteite speel om die gemeenskap ten goede te verander en mense se lewe te red.”

Prof. Martin Veller, dekaan van Wits se fakulteit gesondheidswetenskappe, sê Wits is al die afgelope 30 jaar aan die voorpunt van die wêreldwye stryd teen MIV/vigs. “Navorsing soos hierdie bevestig Suid-Afrika kan met die beste ter wêreld meeding. Dit sal help om mense in veral Afrika se lewe te verbeter en te red.”

Dr. Myron Cohen, direkteur van die instituut vir wêreldwye gesondheid by die Universiteit van Noord-Carolina in Amerika, sê die resultate van die studie op vroue in Suider-Afrika en soortgelyke studies wat onder mans gedoen is, wys hoe ver al gevorder is in die stryd teen MIV. Die studie onder mans het soortgelyke resultate opgelewer as die studie in Suider-Afrika.

Die studie in Afrika is gefinansier deur onder meer Amerika se nasionale instituut vir allergieë en aansteeklike siektes, asook die Bill en Melinda Gates-stigting.

Meer oor:  Universiteit Van Die Witwatersrand  |  Miv  |  Vigs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.