Inwoners van die Chinese stad Wuhan het hulde gebring aan die 34-jarige oogspesialis wat meer as ’n jaar gelede die fluitjie geblaas het oor die uitbreking van ’n nuwe siekte.
Dr. Li Wenliang, wat by ’n hospitaal in die stad gewerk het, is op 7 Februarie verlede jaar dood.
Li het opgemerk dat verskeie pasiënte in die Sentrale Hospitaal van Wuhan siek is met ’n onverklaarbare longsiekte. Hy het sy kollegas daarvan in kennis gestel lank voordat Covid-19 tot ’n amptelike siekte verklaar is.
Hy is deur die polisie aangehou omdat hy volgens hulle “gerugte” versprei. Hy het later self aan Covid-19 gesterf.

’n Vrou loop verby ’n plakkaat van wyle Li Wenliang, die Chinese oogspesialis wat alarm gemaak het oor ’n nuwe onverklaarbare siekte, wat later as Covid-19 sou bekend staan. Foto: Reuters
Zhong Nanashan, ’n epidemioloog, het dae ná Li se dood hom as ’n “Chinese held” beskryf, maar toe pres. Xi Jinping in September verlede jaar hulde gebring het aan die “helde” van die “mense se stryd” teen die virus, is Li se naam nie genoem nie.

Li Wenliang, die Chinese oogspesialis van Wuhan, toe hy met Covid-19 gehospitaliseer is. Foto: Foto versprei deur Reuters
Tog onthou inwoners van die stad, waar ’n afvaardiging van die Wêreldgesondheidsorganisasie tans ondersoek instel na die oorsprong van die virus, steeds vir Li.
“Hy was die eerste een om ons van die virus te vertel,” het Li Pan (24), wat ’n aanlyn winkel besit, aan Reuters gesê.
“Hy moes besef het die impak van sy aankondiging sou groot wees, maar hy het steeds alarm gemaak. Dit was regtig braaf.”
Ji Penghui, ’n 34-jarige ontwerper, sê hy het tydens die vroeë dae van die uitbreking van ’n nuwe siekte van Li se waarskuwing gehoor en vroegtydig maskers gaan koop, voordat amptenare openlik oor die virus begin praat het.“Die publiek erken sy bydrae en ek dink hy moet ook amptelik erkenning kry. – Reuters