Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Wynboere klink ’n glasie op Cyril

Die regering se besluit om wynplase uit te sluit van ’n streng nuwe verbod op alkoholverkope oor naweke was die gevolg van vernuftige diplomasie tussen wynboere en die president en ’n “goedgesindheid” teenoor ons wêreldklas-wynbedryf, het vername boere die afgelope week aan Rapport gesê.

Schalk Burger sr. saam met sy seuns, Tiaan en Schalk, by hul ouerhuis op Welbedacht, Wellington. Foto: Natalie Gabriels

In sy toespraak Maandagaand oor Covid-19-inperkings het pres. Cyril Ramaphosa aangekondig alkoholverkope in die kleinhandel word voortaan slegs toegelaat tussen 10:00 en 18:00 van Maandae tot Donderdae.

Tot groot verligting van die wynbedryf voeg hy toe by: “Geregistreerde wynkelders en wynplase mag voortgaan om oor naweke wynproeë en -verkope aan die publiek te bied. Die uitsondering word gemaak weens die onmisbare bydrae van hierdie instellings tot die toerismesektor in verskeie dele van die land.”

Dit was deurbraak nr. 1 vir ’n bedryf wat vanjaar vir 19 weke verbied is om plaaslik wyn te verkoop. Die verbod het tot R7 miljard se verlore inkomste en 21 000 verlore poste gelei, sê die bedryfsliggaam Vinpro.

Deurbraak nr. 2 het gevolg nadat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering, Dinsdag onverwags regulasies aangekondig het waarkragtens wynplase slegs op Vrydae en Saterdae kon handel dryf en nie ook op Sondae nie, al het die president pertinent van “naweke” gepraat.

‘Ons sal nie in ’n hoek gedruk word nie.’

Dlamini-Zuma se dekreet het net twee dae oorleef en is Donderdag reeds gewysig ná ’n stortvloed besware en pleidooie aan die nasionale regering deur regspraktisyns wat wynboere en -plase verteenwoordig, Vinpro en die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer.

Adv. Mias Schreuder SC, wat vanjaar talle wynboere in ’n regsgeding oor die drankverbod verteenwoordig het, sê die twee deurbrake was te danke aan ’n “goedgesindheid” tussen wynplase en die regering.

Schreuder, wie se kliënte bekende wynboere insluit soos die Springbok Schalk Burger sr. van Welbedacht, Jean Engelbrecht van Rust en Vrede en Charles Back van Fairview, het die regering vroeër vanjaar in ’n hofsaak teen die drankverbod getakel saam met die landbou-organisasie Saai.

Die saak is uitgestel toe die verbod opgehef is.

Die wynboere het die saak ingedien nadat Vinpro hom aanvanklik geskaar het by die vereniging vir eienaars van drankhandelsname (Salba), wat nie kans gesien het om te litigeer nie.

Schreuder sê toe daar vroeg in November weer sprake was van strenger drankregulasies, het hulle dadelik ’n brief aan Rama­phosa geskryf om te verduidelik waarom wynplase anders hanteer moet word as die meerderheid alkoholprodusente en -handelaars.

Schreuder het in die brief uitgewys dat “wynplase gemiddeld 10% tot 30% van hul wins maak deur wyn oor naweke en op openbare vakansiedae aan mense te verkoop”. ’n Verbod op drankverkope oor naweke sou ’n “verlammende effek” op wyntoerisme en -verkope hê.

’n Opvolgbrief is op 11 Desember gestuur toe dit duidelik word daar is weer eise vir ’n drankverbod, en dat Ramaphosa gereed maak om die land toe te spreek.

In die tweede brief is die president gevra om wynboere en -plase van ander alkoholhandelaars te onderskei.

Burger sê dit is “baie positief dat die president direk gepraat het met wynmakers”.

“Hy’t ons gelyk gegee,” sê Burger oor die besluit om wynplase spesiale behandeling te gee.

“En dit kom neer op goeie lobbying vanaf die wynmakers. Ons het gewys ons sal nie in ’n hoek gedruk word nie, en sodoende duisende poste gered.”

Schreuder beaam dit: “Nadat die hofsaak uitgestel is, het ons dit duidelik gemaak aan die presidensie dat ons nie weer met hofsake wil dreig nie, want die proses by die howe kan lank neem. Hierdie goedgesindheid teenoor mekaar is ’n stap in die regte rigting.”

Marisah Nieuwoudt, Vinpro se wyntoerismebestuurder, het die wysiging van regulasies Donderdagaand oor Sondagverkope “uitstekende nuus” genoem.

Burger maan egter dat die miljarde rande se verlies vanjaar nie sommer “opgemaak” kan word nie.

“Ons sit ook met 300 miljoen liter se oorskotwyn, met ’n nuwe oes wat op hande is.

  • “Daarom is ons dankbaar vir hierdie toegewing vanaf die president, anders sou daar onherstelbare skade gewees het.” Salba het die regering gevra om dieselfde toegewing ook aan klein bierbrouers te maak.
Meer oor:  Schalk Burger  |  Cyril Ramaphosa  |  Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Covid-19  |  Wynbedryf  |  Wynplase  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.