Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Zim-vrou toets positief in SA: 'Ander ook dalk besmet'
Amptenare van Limpopo se departement van gesondheid kom haal Sondagmiddag die Zimbabwiese vrou wat positief getoets het. Foto: Verskaf

’n Vrou van Limpopo smeek mense in Suid-Afrika om die inperkingsregulasies baie ernstig op te neem nadat ’n vrou van Zimbabwe wat haar besoek het, positief vir Covid-19 getoets is.

Die vrou se toetsuitslag is op 27 Maart bevestig, maar sy is al sedert 20 Maart in selfisolasie nadat Adri Knoetze van Mokopane reeds toe al vermoed het die vrou het Covid-19.

“Die vrou het egter vóór die 20ste nog vryelik met openbare vervoer oor die grens tussen Zimbabwe en Limpopo gereis, terwyl sy reeds besmet was. Ek dink baie meer mense in Suid-Afrika is draers van die koronavirus as wat die amptelike statistieke toon. Almal laat hulle nie noodwendig toets nie. Hulle dink dalk dis net ’n gewone griep of het glad nie simptome nie.”

Die besoeker wou uit vrees vir stigmatisering nie geïdentifiseer word of self met die media praat nie. Sy het sedert 20 Maart in isolasie in ’n woonstel op Knoetze se erf gewoon. Die departement van gesondheid in Limpopo het haar egter Sondagmiddag kom haal om vir 21 dae onder kwarantyn in ’n hospitaal in Modimolle te wees, sê Knoetze.

Adri Knoetze
Adri Knoetze (regs) en haar ma, Cecile Jacobs. Foto: Verskaf

Neil Shikwambana, woordvoerder van Limpopo se gesondheidsdepartement, het nogtans Sondag beweer die Zimbabwe-geval in Mokopane is “fopnuus”. Dít terwyl Knoetze haar besoeker se toetsresultaat van die Lancet-laboratorium verskaf het, waarop haar paspoortnommer en naam verskyn. “Ek het ook lankal die provinsiale gesondheidsdepartement in kennis gestel.”

Yolandé Coetzee, DA-raadslid in Mokopane, sê sy het ook die positiewe resultaat aan die LUR vir gesondheid in die provinsie deurgegee. “Die LUR se kantore was self daarna met die pasiënt in kontak.”

Thilivhali Muavha, woordvoerder van Limpopo se LUR vir gesondheid, het Sondag gesê hulle het nog nie die fynere besonderhede ontvang van die altesame 13 Covid-19-gevalle in Limpopo wat die nasionale departement van gesondheid bevestig het nie.

Mense het gedink ek is belaglik toe ek die besoeker laat toets nadat sy ’n ligte hoesie gehad het.

Knoetze en haar huiswerker is ook sedert 20 Maart in selfisolasie. “Hier gaan nog baie gevalle kom,” meen Knoetze. “Ek vermoed daar is baie gevalle van besmette mense wat al ongesiens oor die grens gekom het. Mense het gedink ek is belaglik toe ek die besoeker laat toets nadat sy ’n ligte hoesie gehad het.”

Knoetze is van onder haar arms verlam ná ’n motorongeluk 20 jaar gelede.

“My longe funksioneer nie ten volle nie. Ek is daarom oorversigtig. Ek was in ’n stadium aan ’n longmasjien gekoppel. Ek weet hoe dit voel om van versmoring dood te gaan, hoe om ’n stadige dood te sterf.”

Knoetze vertel sy het die besoeker begin uitvra oor haar ligte hoesie nadat sy op 19 Maart by haar aangekom het. “Sy het vertel sy het ’n week tevore toe sy nog by haar familie in Zimbabwe was, koors gehad. Die res van haar gesin was ook siek, maar het gesond geword en nooit vir toetse gegaan nie. Ons besoeker is ook nou gesond.

Limpopo
’n Amptenaar van Limpopo se departement van gesondheid. Foto: Verskaf

“Die Zimbabwiese gesin was nooit in selfisolasie nie. Die kinders is skool toe en sy het maklik oor die grens gekom omdat sy nie koors gehad het nie. Sy het ook openbare vervoer tussen Mokopane en Harare gebruik in die tyd wat sy besmet was. Ek het dadelik besluit om ons almal onder self-isolasie te plaas en R1 000 betaal om haar op 23 Maart by ’n private laboratorium te laat toets. Ons het dae later die uitslag gekry.

“Ek en my huiswerker sal nou glad nie die perseel verlaat voordat ons almal negatief getoets is ná die inperkingstydperk nie,” sê Knoetze. “Nie ek of my huiswerker het tot dusver simptome nie. Ek is dankbaar teenoor my suster, Helena Kockott, en ander weldoeners wat kos en ander kruideniersware vir ons aflewer en buite neersit.”

Knoetze pleit by mense om uiters versigtig te wees en alle moontlike voorsorgmaatreëls te tref om die verdere verspreiding van die virus te beperk.

“ ’n Mens moet ook besef jy kan ’n draer wees al het jy geen simptome nie. Beskou enige produk of oppervlak as besmet. Wees baie bewus waaraan jy raak, hetsy ’n winkeltrollie of -mandjie, deurhandvatsel, geld, bankkaart of ’n kitsbank. Die virus is oral, die meeste gebiede in Suid-Afrika is reeds nie veilig nie.”

Meer oor:  Limpopo  |  Huiswerker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.