Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gevangenes glo na Bfn oorgeplaas
André Gouws Foto: Theana Breugem
Dr. Lets Pretorius Foto: Theana breugem

JOHANNESBURG. – Dr. Lets Pretorius van die Boeremag-saak en André Gouws wat tronkstraf uitdien weens die moord op Chanelle Henning, gaan ondanks beswaar deur hul families na ’n tronk in Bloemfontein oorgeplaas word.

Die twee dien tans hul straf in die Kgosi Mampuru-tronk in Pretoria uit. Hulle gaan nou na die Grootvlei-gevangenis geskuif word.

Gouws, wat skuldig bevind is weens sy aandeel in die moord op Henning, en Pretorius, wat skuldig bevind is aan Boeremag-aktiwiteite, was gister al daarop voorberei dat hulle in die vroeë oggendure (vanoggend omstreeks 02:00) Vrystaat toe vervoer gaan word. Dié oorplasing is egter nog nie bevestig nie.

“Niemand wil vir ons sê hoekom hulle geskuif word nie,” sê Adelene Morrison, Gouws se suster. Sy vertel van ’n onaangenaamheid tydens ’n besoek aan haar broer, waarop sy ’n klag ingedien het nadat ’n vroulike tronkbewaarder glo aan haar gestamp het. Sy het nog geen terugvoer oor haar klag gekry nie.

Gouws se ma, Lenie (72), is glo baie siek en sy sukkel reeds om vir hom in Pretoria, waar sy woon, te gaan kuier. “As hy Bloemfontein toe gaan, is die kans baie goed dat sy nooit weer haar seun sal sien nie,” sê Morrison.

Minnie Pretorius, Pretorius se vrou, vaar erg op Facebook uit oor die stap. “Lets Pretorius is blykbaar ’n groot probleem vir die ANC-regime. Hulle wil hom na Bloemfontein-tronk verskuif sonder enige redes,” skryf sy.

“Ek vra vir ernstige gebed,” sê Pretorius se seun Wilhelm, wat saam met hom agter tralies sit.

“Toe hulle vir Lets wou skuif, het ons voor die hof ernstige mediese redes aangevoer hoekom hulle dit nié kan doen nie,” sê Karel Talte, Pretorius se prokureur.

“As dit dus gebeur, moet hulle dan maar vat wat hulle kant toe kom, want dan is dit minagting van die hof.”

“(Die departement van) Korrektiewe Dienste (DKD) hoef glad nie enige redes bekend te maak wanneer gevangenes van een tronk na ’n ander geskuif word nie,” sê Manelisi Wolela, woordvoerder van die DKD.

“Die tronke is vol, maar dit is nie noodwendig ’n rede hoekom hulle mense sal skuif nie,” sê ’n ingeligte in die DKD wat verkies om anoniem te bly. “Hierdie ouens maak moeilikheid. Veral Pretorius. Daar was al klaar ’n paar rassistiese voorvalle.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.