Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gewilde kuierplek op Kerkplein moet dalk sluit weens water in kelder
Café Riche sal dalk binnekort sy deure vir goed moet sluit. Foto: Herman Verwey
Lamé Ebersöhn, eienaar van Café Riche. Foto: Herman Verwey
Foto: Herman verwey
Die kelder van Café Riche is al vir jare oorstroom. Foto: Herman verwey

’n Immergewilde kuierplek op Kerkplein in Pretoria sal dalk binnekort sy deure moet sluit.

Dit volg nadat die Tshwane-metro tydens ’n onlangse inspeksie bevind het die Café Riche-straatkafee het voedselgesondheidsregulasies oortree.

Die metro se departement van diensleweringkoördinasie en transformasiebestuur het ná ’n inspeksie op 3 September aanbeveel dat die hantering van kos of enige verwante aktiwiteit dadelik gestaak moet word.

Lamé Ebersöhn, eienaar van die bekende baken, het gesê sy kon darem uitstel tot 5 Oktober kry nadat sy die kennisgewing op 17 September ontvang het. Op dié dag sal daar weer die gebou weer geïnspekteer word.

Ebersöhn het gesê die moontlike sluiting hou verband met die gebou se kelderkantore wat al meer as vyf jaar lank onder water is omdat storm- en rioolwater daar inspoel en opdam. Nuwe pompe is onder in die gebou geïnstalleer maar dis gesteel.

Lees ook:

■ ​Erfenisgebou in Pta bedreig

■ ​‘Bouwerk vir bus skaad Kerkplein onherstelbaar’

■ ​Paul Kruger-beeld ‘kan nie in die middel van Kerkplein staan nie’

Sy het onlangs gesê die gebou, wat aan die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling behoort, se fondamente is in gevaar en die onderneming kan ernstig skade ly.

Ebersöhn het die kwessie sedert 2011 gereeld aan die departement en die metro geopper, maar daar word blykbaar niks aan gedoen nie.

Die departement se waterrekening was in Januarie vanjaar met meer as R1 miljoen agterstallig en hul kragrekening is glo agterstallig, wat tot die gevolg gehad het dat Café Riche se water en krag gereeld afgesny is.

Die kafee se administratiewe kantore was in die kelder, maar moes weens die waterprobleme skuif.

Mbangwa Xaba, die departement se woordvoerder, het in September by navraag gesê die departement is “optimisties dat die kwessies binnekort opgelos sal word”.

“Die toestand van die gebou is tans die onderwerp van ’n departementele studie,” het hy destyds gesê.

Volgens Xaba sou die geldigheid van huurkontrakte, skuldinvordering, agterstande in instandhouding, asook die begroting vir instandhouding en betalings ondersoek word.

Café Riche-gebou, ’n beskermde erfenisgebou, het ’n ryk geskiedenis en die ouwêreldse straatkafee se deure het die eerste keer in 1905 oopgemaak.

Cecilia Kruger, die Erfenisstigting se senior bestuurder van erfenisbewaring, het gesê die stigting probeer al jare lank om druk op die departement en metro uit te oefen om die gebou te bewaar.

“Ons kan egter nie daarin slaag om iets reg te kry nie. Dis ’n alewige probleem dat die provinsiale erfenisowerheid nie weet wie (hetsy metro of betrokke departement) se verantwoordelik dit is nie.”

Die departement nog die metro het nie op navrae gereageer nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.