Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
HERRIE OOR SKOLESPELERS
Groot unies koop glo seuns
‘Finansiële aansporings’ moet sorg dat jong spelers eerder bly as ry
Francois Hougaard het by die Bulle aangesluit. Foto: CHRISTIAAN KOTZE
Derick Hougaard het by die Bulle aangesluit. Foto: DEAAN VIVIER
Pieter-Steph du Toit het by die Sharks aangesluit. Foto: GALLO IMAGES

Suid-Afrikaanse rugbyunies word verbied om kontrakte met skolespelers te sluit, maar dit is glo algemene praktyk onder die voorste unies.

Van die beste jong spelers het al op 16-jarige ouderdom agente.

Die Blou Bulle-rugbyunie se onlangse brief aan die Westelike Provinsie (WP), waarin hy sê hy stel in 62 jong spelers belang, het ’n herrie ontketen.

Dit het ’n jare lange debat weer laat opvlam of dit van pas is om spelers op ’n jong ouderdom aan professionele sport bloot te stel.

Die WP het in 2012 gedreig om die Springbok-losskakel Handré Pollard uit sy Cravenweekspan weg te laat omdat Pollard toe reeds ’n kontrak met die Blou Bulle onderteken het.

Die WP het op sy beurt dieselfde jaar vir Ryno Eksteen, die Blou Bulle se Cravenweeklosskakel, Wes-Kaap toe gelok.

Volgens ’n woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) moet streng regulasies gevolg word wanneer daar met skoolkinders oor professionele kontrakte onderhandel word.

Volgens dié regulasies moet ’n unie ’n speler se ouers of voogde kontak voordat hulle hom ’n kontrak kan aanbied.

Die unie mag ook nie ’n kontrak met ’n speler van jonger as 18 jaar sluit as dit vir hom “materiale gewin” inhou nie, tensy dit ’n studiebeurs of beroepsopleiding van ’n jaar of langer is.

Volgens ’n hooggeplaaste bron van een van die top-rugbyunies is dit algemene praktyk om wél finansiële aansporings aan skoolkinders te bied. Hy beskryf dit as “klein kontrakte”.

Dié praktyk het ontstaan as ’n poging om talentvolle spelers te behou omdat die groot unies spelers só probeer lok.

Dit is egter strydig met die regulasies van Wêreldrugby – die beheerliggaam vir die sport – en die kontrakte kan dus nie afgedwing word nie.

Jacques Hanekom, uitvoerende hoof van die WP se rugby-instituut, sê hulle kontrakteer jaarliks sowat 20 o.19-spelers.

Volgens Hanekom kan ’n speler ’n spesifieke bedrag ontvang indien hy Cravenweekrugby of vir die Suid-Afrikaanse skolespan gespeel het.

“Ons beleid is om geen koste te bespaar om ’n speler in ons program te kry nie, eerder as om kontant aan ’n speler te gee.”

Hanekom wou nie uitwei oor die bedrag wat aan spelers betaal word nie, maar Beeld het op goeie gesag verneem dat ’n o.19-speler sowat R150 000 per jaar by ’n groot rugbyunie kan verdien.

Volgens Hanekom doen hulle hul bes om vir spelers wat ná hul o.19-jaar nie ’n kontrak kry nie, plek by ’n universiteit te vind.

Topspelers na Bulle

Daar is ’n lang lys van vooraanstaande spelers wat in die Wes-Kaap op skool was en hul loopbaan in ’n ander provinsie voortgesit het – party direk ná skool.

Hulle sluit in:

Handré Pollard (Bulle)

Thomas du Toit (Haaie)

Pieter-Steph du Toit (Haaie)

Gurthrö Steenkamp (Bulle)

Derick Hougaard (Bulle)

Wilhelm Steenkamp (Bulle)

Francois Hougaard (Bulle)

Willie le Roux (Cheetahs)

SP Marais (Haaie)

Jurgen Visser (Bulle)

Johan Sadie (Cheetahs)

Het nie vir enigiets betaal

Hein Abrahams (20) van Atlantis naby Kaapstad is toe hy 16 jaar oud was deur ’n skoolhoof in sy tuisdorp oorreed om vir die Hoërskool Garsfontein in Pretoria te gaan speel.

“Ek is baie goed belowe, soos beter rugbyafrigting en ’n plek in die koshuis.

“Ek het basies vir niks betaal toe ek daar was nie.”

Abrahams kon nie sy rugbydrome uitleef nie weens beserings – albei sy skouers is gebreek – maar hy is nie spyt dat hy destyds die Kaap vir Pretoria verruil het nie.

“Ek het baie goeie onderwys gekry. Dit was die beste ervaring. Ek het dit baie geniet.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.