Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Haaivanger word prooi toe skeurtand byt

PORT ELIZABETH. – ’n Inwoner van dié stad is in ’n bestendige toestand nadat hy die naweek in Port Alfred deur ’n haai van 2,5 m gebyt is.

Lionel McDougall (38), ’n hengelaar, sterk aan in die Life Mercantile-hospitaal in die Baai.

McDougall het gisteroggend ’n operasie ondergaan waarin ’n haaitand uit sy linkerknie verwyder sou word.

Voor hy die teater binne gestoot is, het hy aan Die Burger gesê hy voel heel ontspanne.

“Gister is die wonde weer behandel en ek voel vandag beter. Ek het baie ondersteuning van my familie en vriende in die Baai ontvang. Hoewel die haaiaanval ’n slegte ondervinding was, het die bystand wat ek van familie, vriende en selfs die NSRI ontvang het, dit nogal ’n goeie ondervinding gemaak.”

Hy het vertel hy het die naweek aan ’n strandhengelkompetisie naby die Rufanesrivier in Port Alfred deelgeneem.

“Ek het ’n skeurtandhaai gevang en probeer om dit na vlakker water te bring om dit te meet en weer te laat gaan.

“Ek moes my met die diepte van die water misgis het. Voor ek geweet het wat aangaan, het die haai omgedraai en my aan die linkerbeen gehap.

“Ek het my hand in sy bek gedruk in ’n poging om sy kake van my been af te kry en het ook wonde aan my hande opgedoen.”

Toe hy uiteindelik loskom, het hy na die strand “geseil” met die beseerde been.

“Ek het die bloeding probeer stop. Ek was so bang . . . dat ek sou uitbloei. Toe ek die bloeding tydelik gestop kry, het ek my mede-hengelaar eers gehelp om die haai te meet, omdat dié taak twee mense vereis. Dit was omtrent 2,5 meter lank. Nadat ons dit gemeet het, het ons ander hengelaars se hulp gevra en hulle het die NSRI ontbied.”

Juan Pretorius, bevelvoerder van die NSRI (Nasionale Seereddingsinstituut) in Port Alfred, sê met die aankoms van hul beamptes op die toneel was McDougall in ’n bestendige toestand in die sorg van sy mede-hengelaars.

“Hulle het die wonde uitstekend verbind en ’n drukverband op die bytwonde aan sy linkerknie, -enkel, -skeenbeen en -hand aangebring.”

NSRI-lede het gehelp om die wonde weer te verbind en McDougall is na die Port Alfred-hospitaal gebring en daarvandaan na die Life Mercantile-hospitaal oorgeplaas.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.