Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Haatspraak-klag teen gospelsanger wat sê gay-huwelike kom van Satan
Foto: Facebook

Die Menseregtekommissie (MRK) ondersoek ’n klag van haatspraak teen ’n Afrikaanse gospelsanger weens beweerde homofobiese kommentaar op Facebook.

Suné Botha het verlede Sondag op Facebook geskryf: “Kan nie glo Ireland het nou same sex marriage gewettig.....hoe siek, en hoe buite God se wil!!!!! Soos in die dae van Lot, ek glo persoonlik as God hulle nie straf nie gaan Hy eendag aan Sodom verduidlik hoekom Hy die stede vernietig het......The King is comming! !!!! (sic)”

Sy meen die wetgewing maak “God se hart seer” en is “Satan se manier om teen God te rebelleer”.

“Die ding is ons judge nie daar is a reg en a verkeerd....dan moet jy ook ni se iemand is a moordenaar of dief, of verkragter, of dronkaard...dan judge jy mos, God se duidlik in Romeine 1 dat even hulle wat same sex marriage goedkeur verdien die dood, wat verwys na due hel, dishoekom ek baie versigtig is om dit enigsens goed te praat.....ek meen wat gaan God eendag judge as alles dan maar ok is???? (sic),” het Botha geskryf.

Onder haar ondersteuners op Facebook is past. Willem Franck, hoofleraar by die Nikos-gemeente in Akasia in Pretoria.

“Mense regte rebelleer teen die wil van God omdat hulle in die mag van die bose is. Christene wat mense regte wil gehoorsaam bo die Woord van God besef nie dat hoerrery met die wêreld vyandskap teen God is en hul saligheid kan kos nie (sic).”

Thorne Godinho, ’n vryskutskrywer en rubriekskrywer, het die klag teen Botha by die MRK aanhangig gemaak, het MamboOnline berig.

“Suné Botha het gesuggereer dat homoseksualiteit siek is en ek vind dit betreurenswaardig.

“Jong lesbiër-, gay-, biseksuele, transgender- en intergeslagtelike (LGBTI) mense word dikwels geforseer om in huise en gemeenskappe te bly waar die onwetenskaplike opinie oor gay identiteit deurdringend is.

“Suné se kommentaar herbevestig hierdie dom siening,” het Godinho gesê.

Isaac Mangena, MRK-woordvoerder, het bevestig dat ’n klag ontvang is. Die MRK assesseer die klag met die oog op ’n ondersoek.

Botha kon Maandag nie vir kommentaar bereik word nie.

Sy het wel Maandagoggend op Facebook geskryf: “My Bybel sê geen wapen wat teen my gevorm word, sal floreer nie!!!...glorie aan Jesus Christus!!! Die beskermer van Israel sluimer of slaap nie! !!!!! (sic)”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.