Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hlaudi Motsoeneng: ‘Ek verdien elke sent’
Dié huis van Motsoeneng in Langenhovenpark, Bloemfontein, is sowat R2 miljoen werd. Die verbandlening hierop is R600 000. Foto: Emile Hendricks
Motsoeneng se huis in Pellissier, Bloemfontein, is sowat R1,2 miljoen werd. Twee verbandlenings van R350 000 is uitgeneem. Foto: Emile Hendricks
Motsoeneng se huis in die Ruimsig Country Estate kos sowat R3,3 miljoen en ’n verbandlening van R1,76 miljoen is uitgeneem. Foto: Felix Dlangamandla

Hlaudi Motsoeneng “verdien elke sent” van sy R3,8 miljoen omdat hy hard gewerk het om bedryfshoof van die SAUK te word.

Oor die verlies van sowat R400 miljoen wat die SAUK in die 2014-’15-boekjaar gely het, sê hy aan Beeld: “Ons gee nie soveel daaroor om nie. Ons mandaat is nie om ’n wins te maak nie, maar om Suid-Afrikaners op te voed, te vermaak en in te lig.”

’n Herrie het om sy kop losgebars toe dit bekend word dat sy salaris sedert 2010 met meer as 1 000% verhoog is. Maar Motsoeneng sê daar is “niks fout dat ’n swart man ’n ordentlike salaris verdien nie”.

Die SAUK het by “beleid en regulasies gehou toe Hlaudi se salaris aangepas is”, het hy Donderdag in die derde persoon gesê.

Lees ook: ANC kap Hlaudi Motso​eneng se salaris

Die ANC stem nie saam nie. Verstandigheid is nodig in die gebruik van openbare geld, sê die party in ’n verklaring wat Zizi Kodwa, woordvoerder, Donderdag uitgereik het.

Die standaardmaatstaf in die openbare en private sektor vir salarisaanpassings is die inflasiekoers. Die regering is daartoe verbind om die gordel stywer te trek en om daarvan af te wyk kan “ ’n gevaarlike presedent skep wat nie volgehou en geregverdig kan word nie”, lui die verklaring.

“Die SAUK-raad moenie buite die raamwerk van verpligtinge optree wat die tesourie stel nie. Ons standpunt is dat ekonomiese neigings besluite moet rig en dit sluit die vergoeding van staatsamptenare in.”

Motsoeneng wil nie kommentaar lewer op adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer (OB), se bevindings oor hom nie, maar sê hy re-spekteer haar kantoor en sal wag om uitsluitsel in die howe te kry.

“Ek is goed gekwalifiseer omdat ek ervaring het. Die SAUK beloon nie net kwalifikasies nie, maar ook ervaring. Ek het deur al die vlakke van die SAUK beweeg. Niemand ken die organisasie soos ek nie.

“Daar is mense wat sê hulle kan nie sonder my nie. Hlaudi is baie gewild in die SAUK. Jy kan enigiemand vra.”

Die yslike verlies wat die SAUK gely het, is deels te wyte aan ’n groter fokus op nasionale projekte, aldus Motsoeneng. “Ek en my span het besluit om sowat R600 miljoen aan die verbetering van plaaslike inhoud te bestee. Daar was heeltemal te veel heruitsendings.”

Luidens die SAUK se jaarverslag oortref sy basiese salaris van R2,2 miljoen dié van elke ander SAUK-amptenaar, al beweer hy daar is ander wat meer kry.

James Aguma, finansiële hoof, kry ’n basiese salaris van R1,3 miljoen, al het hy ’n BCom (honneurs)-graad en uitgebreide ervaring by korporatiewe reuse, soos PwC, Standard Bank en die ouditeur-generaal.

Motsoeneng is trots daarop dat “Hlaudi vir Aguma aangestel het, want hy is goed in sy werk”.

Die DA-LP Gavin Davis het Madonsela Donderdag ook gevra om die SAUK-amptenare se salarisverhogings te hersien.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.