Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Hoe kan stadsraad vir dié konserte betaal?’

Hoe is dit moontlik dat die Kaapse stadsraad betaal vir die private konserte van die popgroep One Direction en die sanger Michael Bublé om in die Kaapstad-stadion gehou te word?

Dít was Donderdag die vraag van Maji­die Abrahams, ANC-raadslid in die Kaapse stadsraad, oor die meer as R2 miljoen wat die stadsraad betaal het om die konserte aan te bied.

Bublé se konsert is op 19 Maart gehou en One Direction s’n op 1 April. Die Burger het Donderdag berig die besteding van R1,2 miljoen aan die Bublé-konsert sluit ’n betaling van R243 000 aan Big Concerts International in.

Abrahams het Donderdag op die maandelikse vergadering van die Kaapse stadsraad gesê soos hy dit verstaan, is Big Concerts International ’n private en kommersiële entiteit.

“Die punt is hoe die Kaapse stadsraad geld mors om kaartjies in die hande te kry om verniet na hierdie konserte te gaan,” het Abrahams gesê.

Hy het bygevoeg Big Concerts maak geld daaruit om kaartjies te verkoop, en dan borg die Kaapse stadsraad die konserte.

Abrahams het ook verwys na die bedrag van R456 320 (BTW uitgesluit) om die stadion se veld te beskerm wat deur die Kaapse stadsraad betaal is en gesê dit is ’n bedrag wat deur Big Concerts betaal moes word.

Die inligting oor die betaling vir die konserte is Donderdag op die raadsvergadering genoem toe die ANC-raadslede vrae gehad het oor die besluite wat die burgemeester in Februarie en Maart vanjaar geneem het.

Patricia de Lille, burgemeester, is siek en was nie Donderdagby die raadsvergadering teenwoordig nie. Brett Herron, wat waarneem as burgemeester, het nie hierop antwoorde gegee nie.

“Julle ‘Bubble’ het gebars en nou is daar net ‘One Direction’ vir julle – en dit is uit,” het Abrahams gesê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.