Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
1 van doodskis-2 reeds uit op parool
Marius Coertze (links), prokureur, saam met Theo Jackson (middel) en Wessel Hermanus Basson, een van die direkteure van Patriot vir Minderhede, met Jackson se vrylating op parool by die kantoor van die departement van korrektiewe dienste in Middelburg, Mpumalanga. Foto: Facebook/ Patriot vir Minderhede

Een van die sogenaamde doodskis-2 van Mpumalanga is die afgelope week stil-stil op parool vrygelaat.

Theo Jackson het Woensdag ná twee en ’n half jaar agter tralies uitgestap.

Hoewel Willem Oosthuizen nog nie vrygelaat is nie, blyk dit volgens die twee se regsverteenwoordiger, Marius Coertze, dat ook sy vrylating op parool goedgekeur is en dat hy binnekort in Jackson se spore kan volg.

“Ons weet nog nie wanneer Willem uitkom nie. Ons bestudeer tans die paroolvoorwaardes en die geldigheid daarvan,” het hy Sondag gesê.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), het ook bevestig dat parool vroeër in Februarie aan sowel Jackson as Oosthuizen toegestaan is.

“Hulle het die minimum vereiste tydperk van hul vonnisse, sowel as die nodige rehabilitasieprogramme, suksesvol voltooi.

“Die korrektiewe toesig- en paroolraad het besluit om hulle op parool te plaas. Hulle bly onder korrektiewe toesig en sal volgens hul paroolvoorwaardes gemonitor word tot die vervaldatum van hul vonnisse,” sê Nxumalo.

Die twee mans se vrylating op parool het lank in die weegskaal gehang nadat hul regstryd deur verskeie probleme gekenmerk is.

Oosthuizen en Jackson is op 25 Augustus 2017 in die rondgaande hof op Middelburg, Mpumalanga, daaraan skuldig bevind dat hulle die vorige jaar vir Delton Sithole en Victor Mlotshwa aangerand het met die doel om ernstig te beseer.

Hulle is ook aan poging tot moord op Mlotshwa, ontvoering en intimidasie skuldig bevind nadat Mlotshwa in ’n doodskis gedruk is.

Willem Oosthuizen en Theo Jackson destyds tydens hul verhoor in die hof in Middelburg, Mpumalanga. Foto: Deaan Vivier

Regter Segopotje Sheila Mphahlele het destyds bevind dat die twee ook gedreig om vir Mlotshwa met petrol aan die brand te steek en ’n slang in die kis te sit.

Jackson is verder aan regsverydeling skuldig bevind omdat hy ná die voorval die kis verbrand het.

’n Video van Mlotshwa in die kis het op die internet beland, wat tot die twee se inhegtenisneming gelei het.

Mphahlele het hulle op 27 Oktober 2017 tot onderskeidelik 11 jaar en 14 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis.

Toe is ontdek dat sy ’n deel van hul vonnis verkeerdelik vir agt jaar, pleks van vyf jaar soos die Strafproseswet voorskryf, opgeskort het.

Die vonnisse moes in November daardie jaar in die hooggeregshof in Pretoria gewysig word.

Die effektiewe vonnisse het egter van krag gebly.

Die twee was sedertdien in aanhouding in die Paxton-gevangenis in eMalahleni.

Ná verskeie mislukte aansoeke om te kan appelleer en/of dat die twee op borgtog vrygelaat word hangende die regstryd, het hul regspan ’n petisie aan die appèlhof gerig.

Dit was suksesvol en op 2 Desember 2019 het die appèlhof Mphahlele se skuldigbevindings en vonnisse tersyde gestel.

Oosthuizen en Jackson is toe skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer en ontvoering.

Jackson is ook skuldig bevind aan regsverydeling.

Die twee se vonnisse is verander in effektief vyf jaar tronkstraf elk.

Toe beveel die appèlhof aan dat dié nuwe ligter vonnisse teruggedateer word na 25 Augustus 2017.

Dit was egter die datum van skuldigbevinding, pleks van vonnisoplegging.

In Januarie vanjaar moes dié regstegniese fout eers reggestel word.

Intussen het Oosthuizen en Jackson se regspan gesê die twee het reeds die minimum voorgeskrewe tydperk – die helfte van hul vonnisse – voltooi, én is geregtig op nog afslag op hul vonnisse nadat pres. Cyril Ramaphosa ’n spesiale kwytskelding op 16 Desember aangekondig het.

Nou het die tronkdeure vir Jackson oopgeswaai.

Luidens ’n Facebook-inskrywing van die groep “Patriot vir Minderhede”, was Coertze en Wessel Hermanus, een van die direkteure van die groep, Woensdag by die kantoor van die DKD om Jackson “ ’n handdruk te gee en terug te verwelkom in civvie life”.

Meer oor:  Theo Jackson  |  Willem Oosthuizen  |  Parool  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.