Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
10 jaar later is 4 in hof weens beweerde korrupsie
Sybil Ngcobo, Mmakgosi Mosupi, Valdis Romaano en Obakeng Mookeletsi voormalige staatsamptenare van Gauteng met hul hofverskyning Donderdag in die gespesialiseerde handelshof in Palm Ridge, Johannesburg. Foto: Melinda Stuurman

’n Reis na Londen, ’n huisopknapping ter waarde van R1 miljoen en meubels van meer as R80 000 is glo aan drie senior amptenare van die Gautengse departement van gesondheid gegee om ’n tender van meer as R1 miljard te bekom.

Die beweerde omkopery het glo tussen 2008 en 2010 gebeur.

Meer as tien jaar later het Mmakgosi Mosupi, die voormalige hoofdirekteur van die inligtingstegnologie-en-kommunikasieafdeling, Valdis Romaano, voormalige direkteur van voorsieningskettingbestuur, en Obakeng Mookeletsi, voormalige adjunkdirekteur-generaal en uitvoerende bestuurder van ondersteuningsprogramme, Donderdag in die gespesialiseerde handelshof in Palm Ridge, Johannesburg, verskyn.

Hulle word aangekla van korrupsie.

Sybil Ngcobo, voormalige departementshoof en rekenpligtige amptenaar van die gesondheidsdepartement, het saam met hulle verskyn. Sy word aangekla van die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.

In ’n verklaring verduidelik die nasionale vervolgingsgesag (NVG) dat ’n tender vir ’n nuwe gesondheidsinligtingstelsel en ’n elektroniese stelsel vir menslike hulpbronne in 2008 deur die gesondheidsdepartement uitgereik is. Die toeken van die tender was onderhewig aan die goedkeuring van die provinsiale tesourie.

Die beraamde koste was R630 miljoen maar ’n tender van meer as R1 miljard is aan die Boaki-konsortium toegeken. Romaano het luidens die klagstaat reeds op 29 September 2008 vir Boaki gesê die tender word aan hulle toegeken, ondanks die feit dat dit toe nog nie deur die provinsiale tesourie goedgekeur is nie.

Die tender is ook twee keer per veranderingsbevel aangepas sodat Boaki ook onder meer kragopwekkers, meubels, rekenaars en spyseniering ter waarde van R13 miljoen en rekenaar-netwerkkabels ter waarde van R223 miljoen kon verskaf.

Dit was nie deel van die oorspronklike tender nie en ’n nuwe tender moes eintlik uitgereik gewees het. Luidens die klagstaat het Mosupi en Mookeletsi die bevele onderteken en gesorg dat dit deurgevoer word.

Die provinsiale tesourie het die gesondheidsdepartement op Op 27 Oktober 2008 gewaarsku dat hy nie die kontrakte aan Boaki kan toeken nie weens ’n gebrek aan geld.

Desondanks is die finale kontrakte op 3 November met Boaki gesluit met Mosupi en Mookeletsi wat dit onderteken het.

Benewens die vier oud-staatsamptenare, is lasbriewe uitgereik vir twee sakemanne en hul maatskappye.

Die NVG sê die lasbriewe kon nog nie op Richard Payne en Phil Austin en hul onderskeie maatskappye Ukwakha Design (Edms) Bpk en Life Channel Communications (Edms) Bpk beteken word nie, want hulle is “landuit”.

Sipho Ngwema, NVG-woordvoerder, sê die Valke het reeds stappe gedoen om hulle terug te kry in Suid-Afrika.

Austin het glo in 2008 vir Mosupi se reis na Londen betaal.  Payne het na bewering in 2008 aan Mookeletsi meubels van meer as R86 000 verskaf. Hy het in 2010 ook sowat R1 miljoen betaal vir die opknapping van Romaano se huis, aldus die klagstaat.

Ngcobo moes volgens die staat as hoof van die departement die beweerde korrupsie opgespoor het.

Die staat het Donderdag nie borgtog teengestaan vir die vier (voormalige) beamptes nie.

Mosupi, Romaano en Mookeletsi is op borgtog van R25 000 elk vrygelaat, terwyl Ngcobo op R8 000 se borgtog vrygelaat is.

Ngwema kon nog nie sê waarom dit so lank geneem het om die vier te vervolg nie. Die saak is tot 3 Desember uitgestel.

Meer oor:  Tenderbedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.