Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
109 dokters kan nou inskryf vir eksamens

Altesame 109 Suid-Afrikaners wat in vyf ander lande as dokters gekwalifiseer het, het Woensdag ’n hofbevel bekom om toelatingseksamens te kan skryf sodat hulle in hul geboorteland kan praktiseer.

Die 109 het hul grade in China, die Oekraïne, Maleisië, Roemenië en Mauritius verwerf en moes noodgedwonge terugkeer na Suid-Afrika nadat hul studentevisums verstryk het. Maar nou sit hulle sonder ’n inkomste.

Die groep het ’n dringende aansoek in die hooggeregshof in Pretoria teen die Raad vir Gesondheidsberoepe (RGB) en die Raad vir Mediese en Tandheelkundige Beroepe ingedien omdat hulle nie by dié rade kan registreer nie.

Die twee rade het die aansoek nie teëgestaan nie.

Die hof het beveel dat die dokters toegelaat word om in te skryf vir die praktiese toelatingseksamen op 9 en 10 September en die teorie-eksamen op 28 September. Die bevel lui ook dat dié vir wie nie vandeesweek in die praktiese eksamen voorsiening gemaak kan word, dit op 28 September mag aflê.

‘Veragting’ teenoor dokters wat oorsee kwalifiseer.

Dis die tweede keer dat ’n hooggeregshof die toepassing van ’n nuwe beleid op Suid-Afrikaners met mediese kwalifikasies wat nié vir registrasie voorgeskryf word nie, verbied.

Die beleid, genaamd die “Pathway for Registration of South African Citizens who hold Qualifications not Prescribed for Registration”, is volgens die dokters se hofstukke in Junie laas jaar deur die Raad vir Mediese en Tandheelkundige Beroepe aanvaar.

Maar regter Margaret Victor het die beleid reeds op 25 Junie vanjaar in die hooggeregshof in Johannesburg tersyde gestel toe dr. Hoosain Mohamed Vawda, wat in Mauritius gekwalifiseer het, ’n aansoek teen die toepassing daarvan ingedien het.

Ingevolge die beleid is dit ná 24 Junie 2020 verpligtend vir buitelands-opgeleide dokters om ’n verdere jaar van kliniese opleiding te voltooi bo en behalwe hul twee jaar internskap.

Vawda het sy mediese graad aan die Anna Medical College in Mauritius behaal. Toe hy in Suid-Afrika vir die praktiese eksamen probeer registreer het, is sy registrasie afgekeur. Victor het die twee rade toe beveel om Vawda toe te laat om die praktiese eksamen op 28 Junie vanjaar af te lê.

Adv. Rene Govender van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Internasionaal Opgeleide Medici (Saithpa) het aan Rapport gesê as die rade Woensdag se bevel van die hooggeregshof in Pretoria nie uitvoer nie, sal hul prokureurs ’n hofaansoek gereed hê om die rade aan minagting van die hof skuldig te laat bevind. “Kom wat wil. Dis hoog tyd dat die dokters toegelaat word om dit te skryf.”

Sy sê daar is om een of ander rede ’n “tipe arrogansie en veragting” teenoor die dokters wat oorsee gekwalifiseer het. Tog is die universiteite waaraan hulle hul grade verwerf het in die Wêreldgids vir Mediese Skole, wat beteken hul kwalifikasies is eg verklaar deur die Onderrigkommissie vir Buitelandse Mediese Gegradueerdes (ECFMG).

Sy sê sodra die bevel wel uitgevoer word, begin die volgende hofaansoek deur 153 dokters. Dit sluit dokters in wat nog hul sesde studiejaar in die buiteland moet voltooi, asook dokters in Suid-Afrika wat nie applikante in die huidige aansoek was nie. Regslui vir Menseregte (LHR) gaan die aansoek namens die 153 indien.

Dr. Nabiela Ragooloo (26) van Delmas in Mpumalanga het in hofstukke namens die 109 dokters gesê Suid-Afrika het meer dokters nodig. Dus sal mense wat oorsee gekwalifiseer het, potensieel waardevol vir die land wees.

Die raadseksamens behoort ook nie op die langebaan geskuif te word omdat die twee rade weier dat hulle dit skryf nie.

’n Persoon wat aansoek doen om by die twee rade geregistreer te word, moet ’n evaluering slaag. Daarin word bepaal of die dokter genoeg professionele kennis het; vaardig en bekwaam is; en of hy/sy bedrewe is in enige van die amptelike tale van die land. Daar is geen ander vereiste waaraan dokters ingevolge die Wet op Gesondheidsberoepe moet voldoen nie. Enige verhindering om die praktiese en teorie-eksamen af te lê, is onwettig en ongrondwetlik.

Ragooloo het in Augustus 2019 in Mauritius gekwalifiseer. Sy sê hoewel die beleid wat deur Victor tersyde gestel is nie meer toegepas mag word nie, “word ons nie genooi om die eksamens af te lê nie”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.