Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
13 keer lewenslank vir Cecilia ‘die heks’

Cecilia Steyn (38) is Maandag tot 13 keer lewenslank plus 155 jaar gevangenisstraf in die hooggeregshof in Johannesburg gevonnis.

Dié baasbrein van die Krugersdorp-moorde het nie geblik of gebloos toe die hof haar die swaar vonnis oplê nie.

Cecilia is saam met Zak Valentine (34) en Marcel Steyn (21) gevonnis.

Die hof het bevind Cecilia het ’n groep rampokkers bestuur wat godsdiens misbruik het om te moor en geld uit mense te swendel. Hulle is in Junie vanjaar skuldig bevind aan onderskeidelik 32, 22 en 21 klagte, wat 11 wrede moorde oor vier jaar insluit.

Hoewel Valentine vroeër losgekom het op vier van die moorde, is hy ook Maandag tot agt keer lewenslank plus nog 93 jaar gevangenisstraf vir sewe moorde en rampokkery gevonnis.

Valentine het die aanklagte deurgaans ontken en aangevoer hy is deur Cecilia gebreinspoel. Die hof het egter gelas Valentine was deel van die moordbende se binnekring en ook die “bank” wat die groep gehelp finansier het. Hy was goed opgelei en moes van beter geweet het.

Marcel, die jongste lid van die bende, sit sewe keer lewenslank plus oor die 100 jaar, wat straf vir agt moorde insluit.

Marcel het kop onderstebo gesit terwyl die regter sy vonnisuitspraak gelees het.

Daar was heelwat gemengde gevoelens oor Marcel se lot, met haar regsverteenwoordiger wat verbete geveg het vir ’n verminderde vonnis omdat die jong vrou skaars 14 jaar oud was met die eerste moorde en misdrywe. Marcel, wat eers alles ontken het, het op nommer 99 besluit om met die hele sak patats vorendag te kom en het ’n verweer van dwang voorgehou. Sy het aangevoer sy is deur haar ma en Cecilia gedwing om aan die groep se aktiwiteite deel te neem.

“Die getuienis teen Marcel was oorweldigend. Ek dink haar besluit om skoon te kom was bloot om die hof se simpatie te wek,” het regter Ellem Jacob Francis Maandag gelas.

Die hof het gevind daar is geen dwingende en substantiewe getuienis om van die minimum vonnis in die geval van Cecilia, Marcel en Valentine af te wyk nie.

Die lewenslange vonnisse is vir die moorde en klagte van rampokkery ingevolge die Wet op Georganiseerde Misdaad (POCA).

Dit sal deur regswerking samelopend uitgedien word. Die ander vonnistydperke word ook samelopend met die lewenslange vonnis uitgedien, wat beteken al drie sal ná 25 jaar om parool kan aansoek doen. Dis egter nie ’n gegewe dat die paroolaansoek sal slaag nie.

Drie ander lede van die bende, Marinda Steyn (Marcel se ma), Le Roux Steyn (Marcel se ouboet) en John Barnard sit reeds agter tralies.

Cecilia se vonnis:

  • 11 keer lewenslank vir die moord op Natacha Burger, Joy Boonzaier, Reg Bendixen, Mikeila Valentine, Peter en Joan Meyer, Jarod Jackson, Glen McGregor, Anthony (Tony) Scholefield, Kevin Mc Alpine en Hanlé Lategan;
  • Twee keer lewenslank vir die bestuur van en deelname aan ’n rampokkeronderneming ingevolge die Wet op Georganiseerde Misdaad (Poca);
  • 15 jaar tronkstraf op elk van die vyf aanklagte van roof met verswarende omstandighede (hou verband met die afspraakmoorde);
  • 14 jaar tronkstraf op aanklag van sameswering tot moord;
  • agt jaar op twee aanklagte wat met bomontploffings en intimidasie verband hou;
  • twee jaar vir ’n klag van kwaadwillige beskadiging van goedere (weens die bomme);
  • twee jaar gevangenisstraf op elkeen van die vyf aanklagte van bedrog wat verband hou met identiteitsdiefstal (in verband met die moord op Jarod Jackson en Zak wat sy dood versin het);
  • 15 jaar vir bedrog ten opsigte van Discovery Life (in verband met die moord op Jarod Jackson en Zak wat sy dood versin het);
  • twee jaar vir kredietkaartbedrog (in verband met die moord op Anthony Scholefield);
  • twee jaar vir regsverydeling deur Valentine se dood te versin en Jackson te vermoor met die doel om ’n lewenspolis te bekom; en
  • 15 jaar vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens (ses vuurwapens ter sprake); en
  • 3 jaar vir onwettige besit van ammunisie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.