Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
2 appèl oor k-woord geweier: ‘Howe kan nie tyd mors’
Ao. Sedisa Tikoe Donderdag in die streekhof in Stilfontein. Foto: Susan Cilliers
Ao. Chris Mphana Donderdag in die hof. Foto: Susan Cilliers

Die howe se tyd is kosbaar en daarom behoort net werklik verdienstelike sake op appèl te gaan.

Streeklanddros Charlotte Oosthuizen-Senekal het twee adjudant-offisiere in die polisie op dié en ander gronde Donderdag in die streekhof in Stilfontein verlof tot appèl teen hul skuldigbevinding geweier.

Sedisa Tikoe (53) en Chris Mphana (54) is in Junie vanjaar skuldig bevind aan crimen injuria, meineed en dwarsboming van die gereg nadat hulle hul afdelingshoof valslik daarvan beskuldig het dat sy hulle met die k-woord geskel het. Hulle het daarna ook vals beëdigde verklarings daaroor by die polisie afgelê.

Lt.kol. Annemarie Oosthuizen was hoof van die polisie se mensehulpbronafdeling in Klerksdorp tydens die voorval in 2017.

Tikoe is agt jaar tronkstraf opgelê en Mphana sewe jaar. Net Tikoe is skuldig bevind op ’n klag van aanranding weens sy fisieke dreigende houding teenoor Oosthuizen. Die vonnisse is in die geheel opgeskort vir vyf jaar, op voorwaarde dat hulle in dié tyd nie soortgelyke oortredings begaan nie. Die twee moet ook elkeen ’n boete van R30 000 betaal.

Hulle het nie teen hul vonnisse geappelleer nie.

Oosthuizen-Senekal het Chris Kok, die staatsaanklaer, Donderdag gelyk gegee dat daar nie ’n redelike kans is dat ’n ander hof op grond van die meriete van die saak tot ’n ander gevolgtrekking sal kom as dat Tikoe en Mphana skuldig is nie. Sy sê die toets om te mag appelleer, is baie strenger as tevore.

“Regter Ronald Hendricks het in Mei 2019 in die appèlaansoek van Phillip Schutte en Pieter Doorewaard (in die Coligny-sonneblomsaak) gesê die toets is nie meer of ’n ander hof dalk ’n ander bevinding kan maak nie, maar of hy sal. Daar moet dus grondige, rasionale redes vir appèl wees, asook ’n werklik realistiese kans dat dit kan slaag. Dis nie hier die geval nie.”

Johan le Grange, Tikoe se prokureur, het namens hom en Mphana aangevoer die hof het gefouteer deur die sleutelgetuienis van Elizabeth Sechele te aanvaar, en nie die onwaarskynlikhede daarvan in ag te neem nie.

Ao. Sedisa Tikoe en ao. Chris Mphana Donderdag in die streekhof in Stilfontein vir hul aansoek om verlof tot appèl. Foto: Susan Cilliers

Sechele, wat tydens die gewraakte voorval haar internskap gedoen het, het getuig sy het gehoor hoe Mphana en Tikoe saamsweer om Oosthuizen valslik te beskuldig.

Le Grange het aangevoer die hof se bevinding dat Sechele geen rede gehad het om te jok nie omdat sy net haar internskap gedoen en nie werklik ’n verhouding met Oosthuizen gehad het nie, was verkeerd.

“Hoër howe het dié benadering in die verlede gekritiseer omdat staatsgetuies dikwels duistere motiewe het soos om hul toesighouers te wil beïndruk, of onbekende wrokke teen die beskuldigdes het.”

Renate Barnard van die Solidariteit-beweging en lt.kol. Annemarie Oosthuizen verlede week by die streekhof in Stilfontein tydens die polisielede se vonnisverrigtinge. Foto: Susan Cilliers

Le Grange het ook Oosthuizen-Senekel se destydse uitspraak bevraagteken dat Oosthuizen tydens die verhoor nooit die indruk gewek het van iemand wat haatdraend of wraakgierig is nie, maar eerder hartseer oor die gebeure is. “Sulke afleidings kan nie gemaak word net op grond van iemand se optrede in die hof nie, want dit kan misleidend wees.”

Oosthuizen-Senekal het ook nie gebyt aan die verdediging se argument dat die staat nié sy saak bo redelike twyfel bewys het nie, en dat die hof gefaal het om sekere onwaarskynlikhede en teenstrydighede in die staat se getuienis te oorweeg nie. “Die hof het nie in ag geneem dat Oosthuizen se getuienis nie in alle wesenlike aspekte bevredigend was nie,” het Le Grange aangevoer. “Die hof het die verdediging se getuie gekap oor vae en langdradige antwoorde, terwyl Oosthuizen nie in twyfel getrek is nie, al het sy dit ook gedoen.”

Tikoe en Mphana het ná die verrigtinge gesê die stryd is nog nie verlore nie en dat hulle hul nou direk tot die appèlhof in Bloemfontein gaan wend. Hulle ontken steeds skuld en hou vol Oosthuizen hét hulle die k-woord toegesnou.

KASSIE

Interne tugprosesse teen twee skuldiges

Oosthuizen is ná die vals beskuldigings teen haar in 2017 na die eenheid vir sigbare polisiëring in Klerksdorp oorgeplaas. Sy is onskuldig bevind in ’n interne verhoor oor die k-woord-bewerings, danksy Sechele se getuienis. Tikoe en Mphana werk albei steeds in die mensehulpbronafdeling.

Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê tugprosesse is reeds in 2017 teen die twee gevolg en dat dit afgehandel is. Die polisie het nie meer besonderhede verskaf oor presies waarvan hulle aangekla is en wat die uitkoms was nie. “Voorgeskrewe tugprosesse in die polisiediens wanneer lede gevonnis is, sal nou ook volg.”

Renate Barnard, sektorkoördineerder van die Solidariteit-beweging se afdeling vir die openbare sektor, sê hulle vind dit vreemd dat Oosthuizen nooit geroep is om te getuig in enige tugprosesse wat teen Tikoe en Mphana gebring is nie. Solidariteit het Oosthuizen in haar verhoor bygestaan.

Meer oor:  Amanda Oosthuizen  |  K-Woord  |  Meineed  |  Chris Maphana  |  Sedisa Tikoe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.