Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
2-jarige dood ná ‘mishandeling’: Mediese rekords bekend

Die ouers van ’n tweejarige seuntjie van Uitsig in Kaapstad wat in die hospitaal dood is, wil weet hoekom hulle weens kindermishandeling teregstaan en nie weens huishoudelike geweld nie.

Dit kom nadat die kind se mediese rekords bekend geraak het.

Hy het verskeie operasies ondergaan nadat hy glo so erg deur sy ma en stiefpa mishandel is dat hy sy sig verloor het, nie meer kon sluk nie en serebraal gestremd gelaat is. Sy ingewande het nie meer gewerk nie en hy het sepsis gekry. Hy was langer as ’n jaar in ’n versorgingsentrum voordat hy einde April 2017 dood is.

Luidens mediese rekords van die Tygerberg-hospitaal en van versorgingsentrums is die kleuter dood weens die operasies, maar die staat voer aan die operasies sou nie nodig gewees het as hy in die eerste plek nie mishandel is nie.

Hierdie verslae is eers onlangs aan die staat verskaf.

Die seuntjie se ma en stiefpa het Donderdag in die hooggeregshof in Kaapstad verskyn op aanklagte van moord en twee aanklagte van kindermishandeling.

Name word nie bekend gemaak nie omdat die ma ’n tweede kind het wat ingevolge wetgewing beskerm word.

Luidens die klagstaat het die ouerpaar die kind en sy negejarige boetie van Desember 2016 tot Februarie 2017 erg mishandel.

Die ouer seun is verskeie kere sonder kos of skuiling buite die huis toegesluit, terwyl die oorledene sonder kos in die huis toegesluit is. Die ouers het na bewering ook die huis verlaat sonder dat daar iemand was om die kinders te versorg.

Die staat voer aan dat die stiefpa die tweejarige fisiek en emosioneel mishandel het. Die ma was na bewering bewus hiervan, maar het niks gedoen om die stiefpa te keer nie. Luidens die klagstaat het die stiefpa die seuntjie met kookwater in die gesig en op die bors gegooi, hom met ’n plathand en/of die vuis geslaan, hom geskop en/of met ’n stomp voorwerp geslaan; en het die kind se dunderm gebars nadat die stiefpa hom op sy maag geslaan het.

Hy het nie die kind vir mediese behandeling geneem nie, maar hom net so in ’n beseerde toestand gelos, beweer die staat.

Volgens die mediese verslag het die seun erge sepsis ontwikkel omdat die dermwond nie behandel is nie.

Die egpaar is op 25 Februarie 2017 in hegtenis geneem en net die ma is op borgtog vrygelaat.

Die stiefpa se regsverteenwoordiger sê sy kliënt wil ’n borgtogaansoek indien omdat die saak sloer en die beskuldigde nie ’n vlugrisiko is nie.

Die staat staan dit teen omdat hy meen die beskuldigde kan met getuies inmeng. Die boetie is as ’n getuie gelys.

Regter Nape Dolamo het aanbeveel dat die partye na die regterpresident gaan om die borgtogaansoek te bespreek. Intussen moet die staat alle mediese dokumente aan die verdediging se regspanne oorhanding.

Die twee advokate, wat deur Regshulp SA aangestel is, wil hul eie mediese kenner raadpleeg, maar het die dokumente nodig om ’n kwotasie te kry. Dan eers kan Regshulp SA die nodige toestemming gee om die kenner te raadpleeg. Hulle voer aan die seuntjie is nie weens mishandeling dood nie en dat dié saak eerder oor huishoudelike geweld gaan.

Dolamo het die saak tot 16 Augustus uitgestel vir ’n voorverhoor.

Meer oor:  Tygerberg-Hospitaal  |  Uitsig  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.