Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
2-jarige vermoor: Ma 5 j. tronk toe, stiefpa 18 j.

In ’n ongewone uitspraak het die hooggeregshof in Kaapstad die ma van ’n vermoorde tweejarige seuntjie vyf jaar tronkstraf opgelê omdat sy niks gedoen het om die mishandeling van haar kind, en gevolglik sy dood, te voorkom nie.

Dít is die enigste manier om haar ander kinders, drie wat tydens die verhoor gebore is en twee ouer kinders, te beskerm teen verdere verwaarlosing, het die hof bevind.

Renzia Louw is Donderdag saam met haar man, Taswell Louw, deur regter Dèidre Kusevitsky gevonnis ná ’n verhoor wat in 2017 begin het.

Taswell is nie die biologiese pa van Renzia se kinders nie.

Kusevitsky het die stiefpa in Februarie vanjaar aan moord skuldig bevind nadat hy Germia Speak (2) so erg mishandel het dat hy blind geword het, nie meer kon sluk nie, serebraal gestremd gelaat en later dood is.

Die egpaar is albei skuldig bevind aan kindermishandeling en -verwaarlosing.

Germia is op 28 April 2018 dood ná ’n noodoperasie op sy ingewande. Dié voorval het gelei tot ’n ondersoek na die omstandighede waaronder hy dood is.

Die egpaar is in hegtenis geneem en aangekla van moord en kindermishandeling.

Die egpaar het Germia tussen Desember 2016 en Februarie 2017 erg mishandel. Germia is verskeie kere sonder kos of toesig gelaat en Taswell het die peuter fisiek en emosioneel mishandel.

Renzia was te alle tye bewus van die mishandeling, maar het niks gedoen om Taswell te keer nie. Hy het in een voorval kookwater op Germia se gesig en bors gegooi, hom met die plat hand en/of die vuis geslaan, hom geskop en/of met ’n onbekende stomp voorwerp geslaan en hom op sy maag geslaan, wat daartoe gelei het dat sy dunderm gebars het. Hy het Germia nie vir mediese behandeling geneem nie en hom net so gelos.

Die peuter het erge sepsis ontwikkel omdat hy nie na ’n dokter geneem is om die dermwond te behandel nie.

Kusevitsky het in haar uitspraak ’n belangrike punt uitgelig wat deur die staatsaanklaer, adv. Liezel Schölzel, onder haar aandag gebring is.

Die minimum voorgeskrewe vonnis vir die verkragting van ’n minderjarige is lewenslange gevangenisstraf, maar daar is nie ’n voorgeskrewe minimum vonnis vir kindermoord nie.

Sy het gesê gegewe die kommerwekkende voorkoms van kindermoord in Suid-Afrika, is dit iets waarvan die regering en wetgewers kennis moet neem.

Kusevitsky het gesê of ’n mens ’n moederinstink het of nie, jou gesonde verstand moet vir jou sê kinders moet beskerm word. As Renzia nie daaroor beskik nie, is die welsyn van al haar ander kinders in gedrang. Ouers kan nie nié gestraf word net omdat hulle ouers is nie.

“ ’n Klein seuntjie het die gruwelikste mishandeling deur sy stiefpa ervaar terwyl sy ma dit geïgnoreer het. Hy het ’n jaar lank geveg om aan die lewe te bly, maar sy klein lyfie kon net nie meer nie. Die ouers moet hiervoor gestraf word,” het Kusevitsky bevind.

Sy het Taswell tot altesame 18 jaar tronkstraf gevonnis en Renzia tot vyf jaar. Albei se name moet in die nasionale register vir kinderbeskerming gevoeg word.

Taswell is ongeskik verklaar om met kinders te werk en ook om ’n vuurwapen te besit.

Meer oor:  Ma  |  Vermoor  |  Tronkstraf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.