Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
2 lewenslank tronk toe ná plaasaanval in Philippi

Twee mans wat in 2018 deelgeneem het aan ’n plaasaanval in Philippi in die Kaapstad-metro is tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hulle aan onder meer moord skuldig bevind is.

Intussen is nog twee van die verdagtes wat in 2018 van die toneel gevlug het, onlangs vasgetrek en hulle het reeds in die landdroshof in Athlone verskyn.

Regter Robert Henney het Sapho Mgxwati en Makwenkwe Thungela op 18 Maart in die hooggeregshof in Kaapstad gevonnis nadat hy hulle ’n week vroeër skuldig bevind het op verskeie aanklagte, onder meer moord en roof met verswarende omstandighede.

Mgxwati en Thungela was lid van ’n groep van nege gewapende mans wat op 16 Desember 2018 omstreeks 08:45 op die plaas Kleinsorgen in Philippi toegeslaan het.

Johannes Jacobus Terblanche, die plaaseienaar, lewer vars groente en vrugte aan groot- en kleinhandelaars, maar het ook ’n plaaswinkel waar lede van die publiek produkte kan koop.

niklas
Niklaas Strydom, die winkel se opsigter, is in die rug geskiet en het op die toneel gesterf. Foto verskaf

Een van die mans het Terblanche aan die keel gegryp, ’n vuurwapen teen sy kop gedruk en “al die kontant op die plaas” geëis.

Terblanche het R15 000 aan hom oorhandig. Die rowers het ook rekenaartoerusting van R130 000 gesteel.

Die rowers het daarna plaaswerkers beroof en selfone, juweliersware en kontant gesteel.

Daar was klante in die winkel en van hulle is saam met werkers by ’n koelkamer ingedwing en beroof. Ander werkers is na ’n teekamer geneem en daar beroof.

Niklaas Strydom, die winkel se opsigter, het in ’n konfrontasie met die rowers betrokke geraak en is in die rug geskiet. Hy is op die toneel dood.

Die rowers het gevlug en Terblanche se bure, Morné Claassen en Dawid Badenhorst, het hulle probeer keer. Die rowers het op hulle losgebrand en Claassen is gewond.

Intussen het die polisie opgedaag en die rowers in hul voertuie agternagesit.

Sithembiso Mbumbuluzana, die bestuurder van een van die rowers se voertuie, is in ’n oor-en-weer-skietery tydens die jaagtog doodgeskiet. Thungela was in dié voertuig en het probeer vlug, maar die polisie het hom aangekeer. Mgxwati is ’n ruk later op ’n buurplaas in hegtenis geneem. Albei het skuld ontken, maar Henney het hul pleitverduidelikings verwerp.

Hy het hulle as volg gevonnis:

Thungela is lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Strydom en 15 jaar tronkstraf weens moord op Mbumbuluzana. Die polisie sê hy is deur sy eie makkers raakgeskiet.

Hy is verder tot altesame 120 jaar gevonnis op ses aanklagte van roof met verswarende omstandighede, twee aanklagte van poging tot moord en aanklagte van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

Mgxwati is ook lewenslange tronkstraf opgelê weens die moorde en altesame 100 jaar op ses aanklagte van roof met verswarende omstandighede en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie. Die vonnisse sal gelyklopend met die lewenslange tronkstraf uitgedien word. Hulle sal effektief dus minstens 25 jaar in die tronk deurbring.

Intussen het Siyabonga Mxoli en Sabelo Mandulo verlede week in die landdroshof in Athlone verskyn. Mandulo is die eienaar van die silwer Polo Vivo wat een van die voertuie was waarin die rowers gevlug het. Hulle staan op soortgelyke aanklagte tereg en sal later weer in die hof verskyn.

Meer oor:  Philippi  |  Plaasaanval  |  Moord  |  Lewenslank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.