Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
2 skuldig aan moord op bejaarde vrou van PE

Die twee mans wat die skuld vir die moord op ’n bejaarde vrou van Port Elizabeth op mekaar gepak het, is albei aan dié moord skuldig bevind.

Sizwe Jika. Foto: Cara-Lee Dorfling

Sizwe Jika en Junior Lungisa het Donderdagoggend ver uit mekaar in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Port Elizabeth gesit terwyl regter Elna Revelas uitspraak gelewer het.

Revelas het albei aan die moord op Anne Smith (86) van Marthastraat in Kammapark, asook huisbraak met die doel om te steel en roof met verswarende omstandighede skuldig bevind.

Sy het afgewyk van die oorspronklike aanklagte van huisbraak met die doel om te roof, omdat sy meen daar is geen bewyse dat die beskuldigdes geweet het iemand sal tuis wees nie.

Op die aanklag van die moord het Revelas die dolus eventualis-beginsel – ’n moord wat nie beplan is nie, maar waar die individu kon voorsien het dat hy/sy iemand se dood sou veroorsaak – toegepas.

Die regter meen die twee beskuldigdes, wat met ’n gesamentlike doel opgetree het, moes kon voorsien het dat hul misdaad tot die dood van iemand kon lei.

Die staat het gesê Jika en Lungisa het op 28 Mei 2018 ingebreek by die hoofhuis, waar Smith in ’n woonstel op die erf gewoon het.

Toe Smith die rowers op heterdaad in die hoofhuis betrap, is sy herhaaldelik met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan. Die rowers het met ’n sak vol goedere gevlug, terwyl Smith in ’n plas bloed vir dood agtergelaat is.

Junior Lungisa. Foto: Cara-Lee Dorfling

Smith is in ’n hospitaal opgeneem voordat sy op 7 Junie ontslaan is. Sy is egter twee dae later weer opgeneem nadat sy geval en haar kop teen die vloer gestamp het. Sy is op 27 Junie in die hospitaal dood.

Revelas het in haar uitspraak daarop gewys dat medici getuienis in die verhoor gelewer het dat haar kopbeserings, wat sy tydens die huisroof opgedoen het, komplikasies veroorsaak het wat uiteindelik tot haar dood gelei het.

Sy het weens haar kopbesering meningitis, longontsteking en septisemie opgedoen.

Jika het erken hy was in die huis. Hy het getuig dat hy en Lungisa hamers gebruik het om ’n kluis te probeer oopkap toe Smith op hulle afgekom het.

Jika het getuig dat Lungisa Smith met ’n hamer en toe met ’n byl oor die kop geslaan het.

Lungisa het op sy beurt ontken dat hy ooit in die huis was of enigsins van die moord geweet het. Hy beweer dat hy ’n uur buite die huis wag gehou het en daarna oor die grensmuur gespring het om te kyk waar Jika draai. Jika het op daardie oomblik glo die huis verlaat en hulle het saam oor die muur gespring. Lungisa het die sak gedra.

Revelas het Donderdag gesê hoewel albei erken dat hulle by die huis was met die doel om in te breek blyk dit dat hulle op die ander aanklagte vrygespreek wil word.

Anne Smith. Foto: Argief

Hoewel Lungisa deurgaans volgehou het dat hy nie in die huis was nie, meen Revelas dat hy sy eie getuienis weerspreek het en sy weergawe aangepas het.

Sy het gesê Jika se weergawe moet met groot omsigtigheid in ag geneem word, aangesien hy ’n enkele ooggetuie én medebeskuldigde is.

Na haar mening het nie een van die twee beskuldigdes goeie karakter getoon nie. Albei het erken dat huisbraak ’n manier is om geld te maak om ’n leefstyl vol te hou wat dwelmmisbruik insluit.

Jika het hom ook in die verhoor beskryf as ’n meester-inbreker wat al by meer as 100 huise ingebreek het.

Revelas het bevind dat Lungisa ook in die huis was en dat albei met ’n gemeenskaplike doel opgetree het. Selfs nadat hulle Smith aangeval het, is hulle later saam gesien terwyl hulle in die wins van hul misdaad deel.

Ná albei se skuldigbevinding het adv. Ismet Cerfontein, die staatsaanklaer, die twee se vorige veroordelings uitgelees.

Lungisa is in 2016 aan opsetlike saakbeskadiging skuldig bevind.

Jika het 15 vorige veroordelings van huisbraak. Hy staan ook tans op die moorde op Kelly Bain (26) en Anne Ferreira (83) in Port Elizabeth tereg.

Bain is in Julie 2018 met ’n skerp voorwerp doodgesteek terwyl sy saam met haar maand oue baba in haar huis in die Brymore-woonbuurt was. Ferreira is in Mei 2018 in Somerstrand vermoor. Die motief in albei gevalle was oënskynlik huisroof.

Die voorvonnisverrigtinge sal op 14 April begin.

Meer oor:  Junior Lungisa  |  Sizwe Jika  |  Port Elizabeth  |  Bejaarde Vrou  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.