Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
2 transitorowers skuldig op talle aanklagte

Twee transitorowers is Woensdag in die hooggeregshof in Polokwane skuldig bevind aan meer as 20 aanklagte van geweldsmisdade.

Boitumelo Aphane (36) van Mahwelereng buite Mokopane en Solly Monama (35) van Hammanskraal in Gauteng was sedert 2017 by verskeie transitorooftogte in Limpopo betrokke.

Mashudu Malabi Dzhangi, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, sê Aphane en Monama het ’n skrikbewind gevoer voordat hulle in 2018 in hegtenis geneem is. Hulle is sedertdien in aanhouding.

Luidens die klagstaat het die twee rowers op die G4S-veiligheidmaatskappy se geldwaens toegeslaan.

In September 2017 het hulle veiligheidswagte van G4S naby die verkeersirkel in Seshego van die pad gedwing.

Aphane en Monama het die wagte uit die geldwa geruk, met vuurwapens aangehou, vasgebind en beveel om op die grond te lê. Hulle het daarna die geldtrommels wat by sakeondernemings afgelaai moes word, gesteel.

Kort na dié rooftog het hulle op die Shell-vulstasie in Mankweng, sowat 30 km buite Polokwane, toegeslaan. ’n Geldwa van G4S-veiligheidsdienste is ook in dié voorval beroof.

In Oktober 2017 het Aphane en Monama op ’n G4S-geldwa by die Total-vulstasie op die hoek van Thabo Mbeki- en Bokstraat in Polokwane toegeslaan. Die twee veiligheidswagte is met vuurwapens aangehou en vasgebind.

G4S-veiligheid se geldwa is ook later in Oktober 2017 by Elegant Fuel op die hoek van Webster- en Marshallstraat in Polokwane beroof.

Elke keer is die veiligheidswagte uit die voertuie gepluk en met vuurwapens aangehou.

Aphane en Monama het in Februarie 2018 wéér ’n geldwa van G4S-veiligheid naby ’n pensioenuitbetaalpunt in die Khulwana-nedersetting in Ritavi buite Tzaneen beroof.

Tydens dié rooftog het Aphane en Monama op die geldwa geskiet en ook plofstof onder aan die voertuig vasgemaak. Twee wagte is beseer.

Die twee is onder meer skuldig bevind op etlike aanklagte van roof met verswarende omstandighede, twee aanklagte van poging tot moord, verskeie aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, opsetlike saakbeskadiging, die rig van ’n vuurwapen en die besit van ongelisensieerde vuurwapens.

Die twee rowers het met elke rooftog honderdduisende rand gebuit.

Malabi-Dzhangi sê Aphane en Monama sal op 5 Oktober in die hooggeregshof in Polokwane gevonnis word.

Meer oor:  Nvg  |  Polokwane  |  Hooggeregshof  |  Roof  |  Hof  |  Transitorowers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.