Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
2 vas ná moord op bejaarde in oord

Marié Henning (69) voel nou nog bewerig as sy dink aan haar noue ontkoming toe sy verlede Saterdag ’n vermeende moordenaar in haar aftreehuisie ingenooi het.

Marié Henning van Alberton het verlede Saterdag ’n noue ontkoming gehad toe sy een van twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle later die aand ’n ander vrou in ’n aftreeoord naby haar vermoor het, in haar woonstel toegelaat het. Foto: Wikus de Wet

Sy het vinnig gedink en van hom ontslae geraak.

Maar Barbara Fenton (74), wat in ’n ander Albertonse aftreeoord gewoon het, was nie so gelukkig nie. Sy is Saterdagnag in haar woonstel in Alberton Village oorval en vermoor.

Die polisie het Woensdag vir Shaun Oosthuizen (38) en John du Plooy (28) in die Munsieville-township in Krugersdorp in verband met Fenton se moord gearresteer. Hulle was op borgtog nadat hulle in Julie aangekeer is in verband met die moord op Hetta Potgieter (85) in ’n aftreeoord in Nelspruit.

Na wat Rapport verneem, ondersoek die polisie minstens nog drie moorde in aftreeoorde waarin die modus operandi soortgelyk was.

Henning sê twee mans wat sy later as Oosthuizen en Du Plooy geëien het, het Saterdagmiddag omtrent vieruur aan haar deur geklop. Sy het deur die veiligheidshek met hulle gepraat.

“Die een het my gegroet as tannie Marie, toe sê ek vir hom dis nie ek nie, ek is Marié. Hy het toe vir my gesê hy soek sy tannie Marie Venter, haar man is twee weke gelede dood. Toe hy my kleremaakster-pop sien, het hy gesê sy tannie Marie maak ook klere.”

Marié het hom nie geglo nie.

“Ek het gesê as ek sy tannie was, sou hy mos geweet het hoe ek lyk,” sê Henning. Sy het gevra hoe hulle in die oord ingekom het.

“Die man het gesê ’n vrou ‘daar voor’ het vir hulle oopgemaak, maar tot nou toe weet ek nie wie nie. Al die ander inwoners ontken dat dit hulle was,” sê Henning.

Die twee is toe na nóg ’n vrou se woonstel.

“Hulle het haar gevra of hulle ’n selfoon kon laai. Sy het ongemaklik gevoel en het die foon deur die hek gevat en kombuis toe gestap. Nadat sy ’n rukkie daar, buite sig, gestaan het, het sy teruggegaan voordeur toe en vir hulle gesê die charger pas nie op hul selfoon nie,” sê Henning.

Die twee mans is toe weer terug na Henning se voordeur toe.

“Hulle het dieselfde plan met my probeer. Ek het sy foon deur die veiligheidshek gevat en kon sien dit was nog 70% gecharge. Toe ek dit vir hom sê, het hy gesê die foon verloor baie vinnig krag en hulle is van Bela-Bela af.”

Toe sê Shaun Oosthuizen hy wil haar toilet gebruik.

“Ek het gesê ek ken hulle nie en hoe kan ek hulle vertrou, toe skree hulle saam ‘tannie kan!’ ”.

Vir ’n oomblik bewe haar lip.

“Ek sal nooit weet hoekom ek vir hom oopgemaak het nie, maar toe hy instap, het my maag skielik gedraai en ek het geweet hier is groot fout,” sê Henning.

Oosthuizen het badkamer toe gestap en Henning het by haar agterste glas-skuifdeur gaan staan en selfoonboodskappe na haar familie gestuur om hulp te vra.

“Van waar ek gestaan het, kon ek my bure agter in die tuin hoor praat. Die man kom toe uit die badkamer en kom staan reg langs my, sy skouer teen myne. Hy het vreemd geruik. Ek het hom toe gesê ek het boodskappe gestuur en my dogter en my skoonseun is op pad. Dít, saam met my bure se stemme, was genoeg om hom te laat skrik.”

Die twee mans het haar gevra om die oord se hek vir hulle oop te maak.

“Nadat hy uit my woonstel is, het ek in my badkamer gaan kyk, toe sien ek die botteltjie mondspoel is vol skuim. Hy moes daarvan gedrink het. Daar is mos alkohol in.”

Die botteltjie, wat sy versigtig met ’n plastieksak opgetel het, is nou deel van die polisie se bewysstukke.

Sy het vorentoe gestap en gesien die twee mans sit in ’n voertuig by die hek.

“Ek kon die laaste deel van die wit Nissan 1400-bakkie se nommerplaat sien, die res was met modder bedek,” sê Henning.

Later daardie aand is Fenton by die Alberton Village vermoor.

“Een van Barbara se bure het my die Sondag gebel. Sy sê Barbara het die Saterdag nog vreeslik vol vreugde almal in haar oord gedruk en gesoen. Toe iemand haar vra of dit dan almal se verjaardag was, het sy gesê ‘nee, dis lentedag’ en later die aand is sy dood. Hulle het haar lyk eers die Sondagoggend gekry.”

’n Betroubare bron in die polisie het aan Rapport bevestig dat dieselfde modus operandi in minstens vyf moordsake ondersoek word.

Meer oor:  John Du Plooy  |  Shaun Oosthizen  |  Marié Henning  |  Barbara Fenton  |  Alberton  |  Bejaardes  |  Hetta Potgieter  |  Aftreeoord  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.