Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
2 wat glo 7-jarige doodskiet, vra weer borgtog

Emaan Solomons (7) van Ocean View naby Kommetjie is van agter in haar rug geskiet. Die projektiel van minstens een van die koeëls is voor by haar bors uit.

Emaan Solomons (7) is in Februarie vanjaar dood toe skote tussen strydende bendes haar glo getref het. Foto: Verskaf

Sy is glo drie keer raakgeskiet.

Hierna het ’n ambulans die aand van 15 Februarie vanjaar met Emaan na die Valsbaai-hospitaal gejaag. Sy is met haar aankoms daar dood verklaar.

Dinsdag het haar twee vermeende moordenaars, Eben Basson en Chivargo Fredericks, twee lede van die Junky Funk Kids-bende (JFK), weer ’n aansoek om borgtog in die landdroshof in Simonstad ingedien nadat hulle in Maart hul eerste borgtogaansoek laat vaar het.

Fredericks is volgens die ondersoekbeampte, speursers. Sebranheim Meintjies van die bende-eenheid, ook ’n lid van die 27-tronkbende.

Die staat staan die twee se borgtogaansoek teen.

Die inligting van hoe Emaan dood is, is in ’n verklaring van Meintjies vervat. Die verklaring is Dinsdag as deel van die staat se saak, tesame met ’n petisie met handtekeninge van inwoners van Ocean View wat teen borgtog vir die twee verdagtes gekant is, by die hof ingedien.

Bendeskietery

Emaan is in vermoedelik ’n bendeskietery doodgeskiet terwyl sy buite haar ouerhuis gespeel het.

Emaan was op pad huis toe toe Basson en Fredericks na bewering in haar en ander mense se rigting in Libraweg geskiet het.

Lede van die polisie se bende-eenheid het hulle in die dae ná Emaan se dood in hegtenis geneem.

Meintjies sê in sy verklaring die twee sal benewens die moordklagte ook teregstaan op minstens twee aanklagte wat verband hou met oortredings van die Wet op Georganiseerde Misdaad, vier aanklagte van poging tot moord, twee aanklagte van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en twee aanklagte van die onwettige besit van ammunisie.

Luidens Meintjies se verklaring is die moontlikheid groot dat Basson en Fredericks met ooggetuies sal inmeng sodat hulle nie getuig nie.

Moontlike inmenging

Hy sê dit is veral duidelik na aanleiding van ander sake waarin hulle aangekla is en waar die klaers agterna onwillig was om teen hulle te getuig.

Volgens Meintjies se verklaring gaan Ocean View gebuk onder bendegeweld met voorvalle van moord en poging tot moord wat bykans daagliks aangemeld word.

Dit is volgens hom weens weerwraak-aanvalle tussen strydende bendes en oor die beheer van afsetpunte vir dwelmverkope.

Woedende gemeenskap

“Die gemeenskap is kwaad oor die voortslepende voorvalle van bendegeweld in die gebied en die sterftes. Hulle het dit duidelik gemaak dat hulle bereid is om die reg in eie hande te neem om te verseker dat die beskuldigdes nie weer in die gemeenskap vrygelaat word nie.”

In die dae ná Emaan se dood het die gemeenskap van Ocean View verskeie huise wat aan vermeende bendebase behoort, afgebrand.

Meintjies meen ook indien die twee op borgtog vrygelaat word, sal hulle vlug en nie hul verhoor bywoon nie.

Die hof het ook gehoor dat albei die mans vorige veroordelings het en dat Fredericks steeds in ’n ander saak op borgtog is.

Die borgtogaansoek duur voort.

Lees ook oor haar familie se hartverskeurende vrae hier.

Meer oor:  Jfk-Bende  |  Emaan Solomons  |  Chivargo Fredericks  |  Eben Basson  |  Ocean View  |  Kommetjie  |  Rug Geskiet  |  Borgtog  |  Bendegeweld  |  Skietvoorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.