Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
2 wat lieg oor k-woord, mag nie appelleer

Die twee Klerksdorpse polisielede wat gelieg het dat hul bevelvoerder hulle met die k-woord geskel het, se aansoek om verlof tot appèl teen hul skuldigbevinding aan onder meer crimen injuria, is Donderdag geweier.

Adjudant-offisiere Sedisa Tikoe (53) en Chris Mphana (54) gaan hulle egter nou tot die appèlhof in Bloemfontein wend, het hulle ná die verrigtinge in die streekhof in Stilfontein gesê.

Landdros Charlotte Oosthuizen-Senekal het onder meer gesê daar is nie ’n redelike kans dat ’n ander hof tot ’n ander beslissing sal kom nie.

Tikoe en Mphana appelleer nie teen hul vonnis nie. Hulle is in Junie vanjaar in die streekhof in Stilfontein skuldig bevind aan meineed, dwarsboming van die gereg en crimen injuria omdat hulle ná die valse beskuldiging beëdigde verklarings by die polisie daaroor afgelê het.

Ao. Sedisa Tikoe verlede week in die streekhof in Stilfontein. Foto: Susan Cilliers
Ao. Chris Mphana verlede week in die hof. Foto: Susan Cilliers

Hulle is albei verlede week tot altesame sewe jaar tronkstraf gevonnis weens dié misdrywe teen lt.kol. Annemarie Oosthuizen, hul destydse hoof by die polisie in Klerksdorp se mensebestuurafdeling.

Tikoe is bykomend tot nog ’n jaar tronkstraf gevonnis weens aanranding omdat Oosthuizen fisiek bedreig gevoel het toe hy sy vinger voor haar geswaai en haar gedreig het dat hy en Mphana haar sal “opf*k”.

Oosthuizen-Senekal het die tronkstrawwe almal in die geheel vir vyf jaar opgeskort. Dit beteken indien Tikoe en Mphana binne die volgende vyf jaar dieselfde oortredings begaan dat hulle tronk toe sal gaan. Albei moes ook ’n boete van R30 000 elk weens crimen injuria betaal. Hulle betaal dit nou af.

Oosthuizen is ná die vals beskuldigings teen haar in 2017 na die eenheid vir sigbare polisiëring verskuif. Sy is dieselfde jaar onskuldig bevind tydens ’n interne verhoor oor die beskuldigings. Dít danksy die feit dat ’n kollega, Elizabeth Sechele, bereid was om in die tugverhoor te getuig sy het gehoor hoe die twee lede saamsweer om Oosthuizen valslik te beskuldig. Sechele het ook in hul verhoor weens die strafregtelike aanklagte getuig.

Tikoe en Mphana werk albei nog in die mensebestuur-afdeling. Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê tugprosesse is reeds in 2017 teen die twee begin en dat dit afgehandel is. Die polisie het nie meer besonderhede verskaf oor presies waarvan hulle aangekla is tydens die tugprosesse en wat die uitkoms was nie.

“Die voorgeskrewe tugprosesse in die polisiediens wanneer lede gevonnis is, sal nou ook volg,” het Mokgwabone gesê.

Renate Barnard, sektorkoördineerder van die Solidariteit-beweging se openbare sektor-afdeling, sê hulle vind dit vreemd dat Oosthuizen nooit geroep is om te getuig in enige tugprosesse wat teen Tikoe en Mphana gevolg is nie. Solidariteit het Oosthuizen in haar verhoor bygestaan. Intussen ontken Tikoe en Mphana steeds skuld en hou vol dat Oosthuizen hulle wel met die k-woord geskel het. Oosthuizen-Senekal het hul weergawe egter verwerp in die lig van onder andere Sechele se getuienis, en bevind hul weergawe is nie redelik moontlik waar nie.

Hou Netwerk24 dop vir meer.

Meer oor:  Chris Mphana  |  Sedisa Tikoe  |  Klerksdorp  |  Hof  |  Appelleer  |  Crimen Injuria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.