Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
25 j. vir jong man wat skool se sekretaresse vermoor

Op 16 het hy Esbé Koster (50) twee keer in die kop geskiet. Die risiko was te groot om haar lewend te los, want sy het hom en sy skoolvriend geken – haar ontvoerders wat haar ook beroof het.

Regter Bert Bam het Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria die beskuldigde, nou 18, tot prakties 25 jaar tronkstraf gevonnis.

Esbé Koster

Hy het bevind dat die beskuldigde en sy medeleerling van die Rabboni Christian School in Brits die skoolsekretaresse se roof én moord noukeurig beplan het en, juis omdat sy hulle geken het, nooit beoog het om haar lewend agter te laat nie.

Dié jong man het vroeër skuld beken op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, menseroof, diefstal, asook die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Sy jonger skoolmaat het skuld ontken en die verhore is geskei.

Die ouer een het in sy pleitverduideliking gesê hy het op 22 November 2016 sy pa, wat in die weermag is, se vuurwapen uit die kluis gesteel, in sy skooltas gesit en skool toe geneem.

“Ek en Beskuldigde Twee het die vorige dag besluit ons het ’n motor nodig om mee rond te ry,” lui die jong man se pleitverduideliking.

Hulle het ná skool Koster vir ’n saamrygeleentheid dorp toe gevra. Koster het ingestem. In die ry het die ouer seun die vuurwapen op haar gerig en haar net buite Brits beveel om stil te hou.

Jan Koster, wewenaar van die vermoorde Esbé Koster (50). Langs hom staan sy skoonseun Lambertus Scheepers, en Esbé se twee dogters, Jeanbie Scheepers en Merlin Barnard, buite die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Hanti Otto

Die twee kinders het Koster probeer vasbind, maar sy het haar teëgesit. Dit was toe dat die ouer seun haar twee keer in die kop geskiet het.

Bam het Dinsdag gesê dit is steeds vir hom onduidelik hoekom die beskuldigdes hierdie “bose daad” gepleeg het.

“Julle het ’n weerlose vrou met ’n vuurwapen aangeval. Nadat julle haar doodgemaak het, het julle haar net so in die veld gelos, sonder enige respek. Die beskuldigde het selfs daarna vir sy ma geld gevra om petrol in die (geroofde) motor te gooi, wetend dat hy die oorledene vermoor het.”

Bam het gesê dit is nie net Koster se familie wat deur die tragedie geraak is nie, maar ook die beskuldigde se ouers, wat vir hom ’n goeie opvoeding wou gee.

As dit nie vir die beskuldigde se jeugdige ouderdom ten tye van die misdaad was nie, sou lewenslange tronkstraf van pas gewees het, het die regter gesê.

“Maar jou ouderdom is ook al wat in jou guns tel. Julle het hierdie moord beplan soos geharde misdadigers dit sou doen,” het Bam bevind.

  • Die hof het beveel dat die beskuldigdes se identiteit nie bekend gemaak mag word nie omdat hulle ten tyde van die misdaad minderjarig was.
Sy was lief vir kinders

Jan Koster het Dinsdag voor vonnisoplegging getuig hoe lief sy vrou Esbé vir kinders was.

“Sy was lief vir haar werk by die skool. Sy sou speelgoed soos albasters koop en dit pouses leen vir kinders wat nie geld het om hul eie te koop nie.

“Sy was nie net die hoof se sekretaresse nie. Sy was die een wat pleisters sou plak of ouers sou bel as ’n kind siek word of seerkry.”

Koster is twee maande en agt dae voor haar kleinseun se geboorte vermoor. Ná die kleinkind se geboorte sou Koster se dogter maar haar pa vra oor iets soos ’n uitslag, want haar ma was nie meer daar om raad te vra nie.

“Ek sou vra dat sy ’n foto stuur en dan het ek maar ander mammas daaroor gevra,” het Jan getuig.

Hy het Koster in 1984 ontmoet en hulle is in 1987 getroud.

“Sy was my beste vriend. Sy sou by my sit en gesels en gereedskap aangee terwyl ek aan voertuie werk. Haar moord het alles doodgemaak. Haar eie ouers, hulle is in hul laat 70’s en vroeg 80’s, kry steeds berading,” het Koster bygevoeg.

Sy dogters, Jeanbie Scheepers (23) en Merlin Barnard (28), het trane in die hof afgevee toe hul pa getuig.

Buite die hof het die gesin gesê hulle is tevrede met die vonnis.

“Maar maak nie saak wat die regter sou oplê nie, dit sal nooit my vrou terugbring nie,” het Jan gesê.

Barnard het sag bygevoeg: “En nou lê die ander beskuldigde se verhoor nog voor.”

Meer oor:  Pretoria  |  Brits  |  Moord  |  Vonnisoplegging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.