Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
3 het man ‘soos dier behandel wat geslag word’

’n Ma van drie dogters het huilend in die getuiebank van ’n hof in Port Elizabeth vertel hoe die moord op haar dogters se pa hul lewe onherroeplik verander het.

Elize Marais, die ma van die vermoorde Quinton Williams (44) se drie dogters, het Woensdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth getuienis gelewer ter strafverswaring van drie jong mans wat skuldig bevind is aan die moord.

Williams was ’n bewaarder by die St. Albans-gevangenis aan die buitewyke van die stad.

Jean-Claude Uithaler Foto: Lulama Zenzile

Die hof het bevind Sinethemba Mfihlo (23), Khawulelani Gqunta (24) en Jean-Claude Uithaler (25) het op 14 Junie 2014 vir Williams beroof en doodgemaak.

Hulle het tekkies en geld by Williams gevat.

Williams is die betrokke aand oorrompel terwyl hy besope van ’n taverne in Booysenspark huis toe gestap het.

Hy is aangerand, met klippe bestook, met ’n mes in die long gesteek en sy kop is herhaaldelik met ’n baksteen geslaan.

Elke been in Williams se skedel was gekraak, het die hof vroeër in die verhoor gehoor.

Marais het Woensdag getuig haar drie kinders, veral haar 13-jarige dogter, sukkel ná vyf jaar steeds om Williams se dood te verwerk.

Khawulelani Gqunta praat met sy regsverteenwoordiger, Ryno Scholtz. Foto: Lulama Zenzile

“My kinders praat nie baie nie, maar die manier hoe hulle optree, is anders, alles is anders vandat hy (Williams) dood is,” het Marais gesê.

Sy was in trane toe sy oor haar 16-jarige dogter praat wat die skool ná Williams se dood verlaat het.

“As hy nog geleef het, was my kind nog vandag op skool,” het Marais tussendeur die trane gesê.

Volgens haar het dié dogter gesukkel om op haar skoolwerk te konsenteer, veral nadat die hofsaak begin het.

Sy het Williams as ’n streng man beskryf, wat sy dogters “oneindig” liefgehad het.

“Die familie was en is steeds platgeslaan deur die voorval.”

Finansieel was Marais en die kinders van Williams afhanklik. “Was dit nie vir my suster wat vir ons gesorg het totdat my man se (pensioen)geld uitbetaal het nie, weet ek nie waar ons vandag sou wees nie.”

Sinethemba Mfihlo Foto: Lulama Zenzile

Die drie beskuldigdes se regsverteenwoordigers was dit eens dat die voorval ’n ernstige misdaad is wat ’n langtermynvonnis verg. Maar hulle het tog by die hof gepleit om van die minimum vonnis van lewenslange tronkstraf vir die moordklagte af te wyk en die beskuldigdes ’n kans op rehabilitasie te gee.

Ten tyde van die moord was die drie beskuldigdes onderskeidelik 19, 19 en 20 jaar oud en is die hof gevra om in ag te neem dat hulle jeugdiges was wat op die ingewing van die oomblik opgetree het.

Maar Garth Baartman, staatsaanklaer, het aangevoer die beskuldigdes het die aanval op ’n “kwesbare, weerlose” man beplan en soos volwassenes opgetree.

“Hulle het die man soos ’n dier behandel wat geslag word en hom in ’n plas bloed agtergelaat.

“Dit was ’n wrede, koue, hartelose moord op ’n onskuldige man.

“Kinders het hul pa verloor, die gevangenisdiens het ’n bewaarder verloor, die gemeenskap het ’n mens verloor wat ’n bydrae gelewer het.”

Op ’n vraag van regter Irma Schoeman oor wat die sowat vyf jaar beteken wat die beskuldigdes reeds in aanhouding is, het Baartman gesê die feite van die saak weeg veel swaarder as die beskuldigdes se tyd in aanhouding.

Baartman het Schoeman gevra om al drie beskuldigdes tot lewenslank te vonnis vir die moord en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede.

Schoeman sal die drie beskuldigdes op 1 November vonnis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.