Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
3 in hof ná konstabel in kuierplek aangerand is

Die “fris” man wat glo betrokke was by ’n “wraak-aanval” op ’n polisiekonstabel, is twee dae voor dié voorval ook in hegtenis geneem op ’n aanklag van aanranding.

Francois Leibrandt (24) is toe op waarskuwing vrygelaat, hangende die ondersoek.

Konst. Leon Mentz kort na die aanval waarin hy onder meer met ’n glas in die gesig gegooi is.

Saterdagaand het hy, sy meisie, Cindy Engelbrecht (26), en ’n vriend, Jacques van der Merwe (32), konst. Leon Mentz van die polisiekantoor in Sinoville, Pretoria, glo so erg aangerand dat hy Vrydag ’n derde operasie moet ondergaan.

Hulle het al drie Donderdag in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn op aanklagte van aanranding en aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Die saak is oorgedra na Vrydag omdat die aanklaer die saakdossiere met die oog op moontlike borgtogaansoeke moet bestudeer. Die string hangende sake teen Leibrandt het vermoedelik iets daarmee te doen.

Intussen moes Mentz ’n oogspesialis gaan sien nadat hy sowat 82 steke aan sy gesig en byna 20 aan die agterkant van sy kop en aan sy een oor gekry het.

Sy broer, wat by was tydens die aanranding, moes agt steke in sy gesig kry.

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat Mentz Saterdagaand in ’n kuierplek in Magalieskruin, Pretoria, aangeval is nadat Leibrandt glo deur ’n ander man aangehits is.

Hulle het bevestig dat ’n man, wat vroeër in hegtenis geneem is op ’n dwelmverwante aanklag en vrygelaat is hangende die ondersoek, ook die aand by die plek was.

Francois Leibrandt en Cindy Engelbrecht

Hoewel Mentz nie destyds die man in hegtenis geneem het nie, was hy deel van die span wat betrokke was.

Luidens bronne het Mentz en sy broer Saterdagaand gaan potspel (pool) speel.

Leibrandt en Engelbrecht het glo ingekom en met die dwelmverdagte gepraat, waarop Leibrandt na bewering na die Mentz-broers gestap het.

Francois Leibrandt, wat glo sy boarmspiere gebult en gesoen het, kort voordat ’n polisieman en sy broer aangerand is.Foto: Facebook

“Hy het skoor gaan soek. Leibrandt het by die pooltafel gestaan, sy boarms gebult, die spiere gesoen en gesê ‘f*k die polisie’ en ‘die polisie kan my niks doen nie. Ek is ’n Leibrandt’,” sê ’n bron.

’n Ruk later is Mentz se broer badkamer toe, waar Leibrandt en Van der Merwe glo sy pad versper het. Hulle het die broer “ ’n hele paar sekondes” so gekeer, voordat hulle hom deurgelaat het.

Mentz het toe gesien hoe die twee mans agter sy broer by die badkamer in is. Toe hy gaan ondersoek instel, het hy gesien hoe die twee sy broer vasdruk.

Die konstabel het Leibrandt weggetrek en gevra wat aangaan.

“Albei verdagtes het toe glo die broers begin slaan. Mentz is glo ook van agter deur ’n kort, blonde vrou met ’n bottel oor die kop geslaan,” sê die polisie.

’n Bloeiende Mentz en sy broer het gevlug, maar op die parkeerterrein is hy weer met ’n gebreekte glas in die gesig gegooi.

Hy is glo verder aangerand, totdat omstanders sy aanvallers van hom weggetrek het.

* Leibrandt het voor sy inhegtenisneming Maandag ’n teen-aanklag van aanranding by die polisie in Pretoria-Wes ingedien.

Van der Merwe is sy getuie.

Dis nie al sake teen Leibrandt nie...

Leibrandt het verskeie hangende sake, wat dateer van sover terug as 2016, teen hom.

* Hy is tans in ’n verhoor in die landdroshof in Pretoria. Hy het hier skuld ontken op ’n aanklag van poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Hy het Lionel Mark Lewis glo in Julie 2016 met die vuiste geslaan en verskeie kere geskop toe hy geval het.

Daarby het Leibrandt na bewering probeer om vir Ramon Benjamin Dunye raak te ry toe dié wou keer dat Leibrandt wegkom.

Leibrandt se medebeskuldigde in dié saak, Duane Broodryk, word aangekla van aanranding omdat hy Dunye glo tydens die beweerde aanval gewurg het.

Die verhoor gaan in Julie voort.

Die beskuldigdes is vrygelaat op waarskuwing.

* Leibrandt en nog vier vriende verskyn in Augustus in die landdroshof in Pretoria-Noord op ’n aanklag dat hulle Donald Kearney in Julie 2018 by ’n dansplek in Pretoria aangerand het met die opset om ernstig te beseer.

Kearney het ’n gapende sny aan sy skedel opgedoen.

Die vyf beskuldigdes is op borgtog vrygelaat.

Ook hier is hulle destyds deur polisielede van Sinoville in hegtenis geneem.

* Die Sinoville-polisie ondersoek ook ’n aanklag van aanranding teen Leibrandt nadat ’n man by ’n petrolstasie in Wonderboom aangerand is.

* Op 20 Junie 2019 is ’n aanklag van aanranding teen Leibrandt by die Hercules-polisiekantoor ingedien. Hy is op waarskuwing vrygelaat. Twee dae later is Mentz en sy broer aangerand.

* Twee ander sake teen hom, een van 2016 by die Pretoria-Moot polisie, en een van 2018 wat ingedien is by die Boschkop-polisie, is later teruggetrek.

Meer oor:  Konst. Leon Mentz  |  Francois Leibrandt  |  Pretoria  |  Kuierplek  |  Aanranding  |  Hofverskyning  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.