Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
3-jarige dood: Bevind ma ook skuldig, vra staat

Die driejarige Daniël* is op 25 Junie 2016 dood, maar meer as twee jaar later vertel die veelvuldige houe en brandwonde wat hy opgedoen het, namens hom die storie van sy tragiese dood.

Sy 29-jarige ma en haar 36-jarige voormalige kêrel het Dinsdag weer in verband met sy dood in die hooggeregshof in Johannesburg verskyn waar slotbetoë gelewer is.

Hulle word aangekla van moord en kindermishandeling (alternatiewelik verwaarlosing) ingevolge die Kinderwet.

Albei het skuld ontken.

Volgens hul regsverteenwoordigers kon die staat nie bo alle redelike twyfel bewys Daniël is onderwerp aan voortdurende mishandeling wat tot sy dood gelei het nie.

Die verduidelikings vir Daniël se beserings is net te gerieflik . . . die ma het die plig gehad om tussenbeide te tree en te sorg haar kind kry behandeling. Sy moes kon voorsien dat haar optrede, of gebrek daarvan, Daniël se dood kon veroorsaak
Adv. Steven Rubin, staatsaanklaer.

Daar is voorheen getuig hy is dood ná veelvuldige houe met ’n stomp voorwerp. Hy het ook brandwonde oor 60% van sy lyf gehad en sy voetsole en naelbeddens was “gaar gekook”.

Verder het Daniël ’n ribfraktuur en longbeserings, ’n gebreekte femur (bobeen) en elmboogbreuk gehad.

Al sy beserings was tussen 12 en 48 uur oud toe hy dood is.

’n Patoloog het vir die staat getuig veral die elmboogbreuk stem ooreen met beserings wat met kindermishandeling verband hou.

Luidens die hofstukke is die seuntjie die aand van 24 Julie 2016 erg beseer toe hy in ’n bad met warm water geval het. Hy is met sy beserings en al in die bed gesit, maar het moontlik ineengestort toe hy die volgende oggend opgestaan het om ’n draai te loop.

Sy ma en die kêrel se regsverteenwoordigers het Dinsdag in die hof aangevoer die breuke spruit daaruit dat hy van sy fiets afgeval het en ’n ander keer uit ’n boom.

Die beskuldigdes het ook aangevoer van die ander beserings was omdat “kinders dikwels seerkry as hulle saam met maatjies in die kleuterskool speel”.

Die brandwonde is as ’n ongeluk beskryf. Die beskuldigdes voer aan die seuntjie het per ongeluk in ’n bad met warm water geval. Die kêrel het salf op die wonde gesmeer en gemeen dit is nie ernstig genoeg om dokter toe te gaan nie.

Adv. Steven Rubin, staatsaanklaer, het die hof daarop gewys dat Daniël se beserings ’n patroon van mishandeling toon, en gevra dat die ma en die gewese kêrel skuldig bevind word aan moord.

“Die verduidelikings vir Daniël se beserings is net te gerieflik . . . die ma het die plig gehad om tussenbeide te tree en te sorg haar kind kry behandeling. Sy moes kon voorsien dat haar optrede, of gebrek daarvan, Daniël se dood kon veroorsaak,” het Rubin gesê.

Hierop het die ma onbeheers begin huil en kort-kort haar kop geskud.

Die Afrikaanssprekende ma, oorspronklik van Mbombela (Nelspruit), het saam met die man, klein Daniël, sy ouboet en ’n kind wat die beskuldigdes saam gehad het, in ’n buitekamer by die man se ma in Johannesburg gewoon.

Twee weke ná Daniël se dood het die ma uitgevind sy is swanger met haar vierde kind. Dié baba asook die twee ander kinders is uit haar sorg verwyder.

Uitspraak is tot 20 Desember voorbehou.

* Daniël is ’n skuilnaam. Die hof het gelas dat die media geen name of foto’s van die beskuldigdes se gesigte of dié van die oorledene mag publiseer nie om die beskuldigdes se ander kinders te beskerm.

Meer oor:  Mishandel  |  Slaan  |  Skuldig  |  Ma  |  Brandwonde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.