Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
3 keer renosterstroper aan toe hy by hof ontsnap
Van links is die drie mans wat ’n renosterstroper gevang het: Mabote Hlabahlaba, Johannes Morako en Joseph Mohala.Foto: Alet van der Walt

’n Veroordeelde renosterstroper se ontsnapping by die hof op Virginia was van korte duur toe hy uit ’n boom gespring en langs een van drie helde te lande gekom het.

Regter Phillip Loubser het Jimmy Mashopane (35) Dinsdag in die rondgaande hof op 20 aanklagte wat met renosterstropery verband hou, skuldig bevind.

Kort voordat hy Donderdagoggend gevonnis sou word, het Mashopane sy kans waargeneem en ontsnap voordat hy na sy aanhoudingsel gebring kon word.

Omstanders buite die hof sê ’n groep mans het doelbewus verwarring veroorsaak by die hek aan die agterkant van die hof waar verhoorafwagtendes ingebring word.

Volgens ’n ooggetuie het dit gelyk asof die mans die elektriese hek vir Mashopane wou laat oopbly.

Die volgende oomblik het Mashopane, wat toe glo pas uit ’n voertuig van die departement van korrektiewe dienste geklim het, laat spaander.

Mashopane het in ’n doringboom op die hofterrein geklim van waar hy oor die palissade-heining tot op die sypaadjie gespring het.

Mashopane het reg langs Joseph Mohala, ’n liasseerklerk by ’n nabygeleë prokureursfirma, te lande gekom.

Mohala was op pad om posstukke by die hof af te gee.

Mohala het reeds die geskreeu van mense gehoor en besef Mashopane moet ’n ontsnapte misdadiger wees.

Hy het Mashopane agternagesit en gevang.

Nog twee mans, Mabote Hlabahlaba, wat na die winkeltrollies by die Checkers-sentrum omsien, en Johannes Morako, het Mohala gehelp om Mashopane in hegtenis te neem.

Morako, wat werkloos is, is ’n bekende gesig by die hof waar hy verhore bywoon. Hy was daagliks by Mashopane se verhoor.

Dit is nie seker waarom Mashopane sonder voetboeie hof toe gebring is nie aangesien hy kort nadat hy in 2019 in hegtenis geneem is, ook op Hoopstad probeer ontsnap het.

Adv. Antoinette Ferreira, die aanklaer, het die drie mans vir hul heldedaad bedank en gesê as dit nie vir hulle was nie, was meer as ’n jaar se harde werk tevergeefs.

Loubser het Mashopane tot 24 jaar tronkstraf vir renosterstropery, die diefstal van renosterhorings, geldwassery en oortredings van die Wet op Vuurwapens gevonnis.

Mashopane is in Januarie 2019 aangekeer nadat die Sandveld-natuurreservaat buite Hoopstad maande lank onder renosterstropery deurgeloop het.


Meer oor:  Jimmy Mashopane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.