Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
4 in hof ná veediewe toeslaan

Vier vermeende veediewe verskyn weer Donderdag in die landdroshof in Petrusburg in die Vrystaat nadat hulle na bewering ’n boer se skape probeer steel het.

Kloes Smith van Petrusburg in die Vrystaat en sy werkers laai sy gesteelde skape op ’n waentjie nadat hulle die diere op ’n ander plaas gekry het. Foto: Verskaf

Renauldo Rossouw (32), wie se pa, Charlie, die Kandirri-wildreservaat buite Petrusburg besit, Jacobus “JJ” Erasmus (32), Jean-Pierre van der Mescht (30) en Kaelo Joseph Diome (32) het op 14 Mei, ’n dag ná die beweerde diefstal, die eerste keer in die hof verskyn.

Hulle was Maandag weer in die hof en het om borgtog aansoek gedoen. Rossouw, Erasmus en Van der Mescht is elk op borgtog van R2 500 vrygelaat. Diome se borgtogaansoek is tot Donderdag uitgestel omdat daar ’n hangende saak van veediefstal teen hom is.

Die mans word daarvan beskuldig dat hulle betrokke is by die diefstal van 16 skape wat aan Kloes Smith (64), ’n skaap- en beesboer van die Petrusburg-distrik, behoort. Dit spruit uit ’n voorval die nag van 13 Mei.

Smith het die Dinsdagoggend agtergekom iets is verkeerd toe sy kraal se hekke oop was. Hy het dadelik sy skape begin tel en vasgestel 15 ooie en ’n lam is weg.

Smith en twee van sy werkers het dadelik spoor begin sny.

“Ek het die Maandagaand gehoor my honde blaf, maar het hulle stilgemaak, want my seun Hein (36) kuier hier van Saoedi-Arabië en ek wou nie hê hulle moes hom wakker maak nie.

“Dit is egter toe wat hulle my skape gesteel het. Hulle het die skape agter my huis verbygejaag en hulle oor ses plase aangejaag en 11 draadheinings is geknip,” sê hy.

Ek het moedeloos geword en gedink my skape is Bloemfontein, Kimberley of townships toe, dan sal ek hulle nooit weer sien nie.

Volgens Smith het hulle eers een skaap gevind wat te moeg was om verder te loop en afgedwaal het. Op ’n ander plaas het hulle later nog twee skape gevind.

Sowat 21 km verder het hulle op ’n versteekte kraal afgekom waar die skape oënskynlik op ’n wildwaentjie gelaai en verder vervoer is.

“Ek het moedeloos geword en gedink my skape is Bloemfontein, Kimberley of townships toe, dan sal ek hulle nooit weer sien nie. Ons het daarna die waentjie se spore gevolg tot by die wildreservaat waar die res van my skape was.

“So teen 17:00 het my skape uit die veld aangekom.”

Smith is dankbaar dat sy skape gevind is.

“Ek kan net sê dankie, Here. Dit sou ’n m**rse verlies gewees het.”

Smith sê die diefstal is haarfyn beplan.

Behalwe om te sê hy ken Rossouw en sy pa, wou hy nie enige kommentaar oor die beskuldigdes lewer nie.

Sers. Wendy Nkabi, polisiewoordvoerder, sê die beskuldigdes is kort ná die voorval in hegtenis geneem.

Meer oor:  Veediefstal  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.