Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
4 kry lewenslank vir moord van bejaardes op plaas

Die vier moordenaars wat ’n bejaarde egpaar van Limpopo in 2017 op hul plaas buite Bela-Bela vermoor het, is elkeen tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis.

Regter A.J. Mangena het Vrydag in die hooggeregshof in Polokwane vir Boitumelo Mathebula (32), Mpo Nkonyana (23), Tshepo Tebula (39) en Thato Maringa (33) skuldig bevind aan die moord op Cecil Peterson (83) en sy vrou, Pattie (73).

Pattie en Cecil Peterson is in 2017 op hul plaas buite Bela-Bela vermoor.

Die vier moordenaars is benewens die twee lewenslange vonnisse elk tot ’n verdere 19 jaar gevangenisstraf gevonnis vir roof met verswarende omstandighede, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.

Adv. Johann Kotze, senior staatsaanklaer, sê die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Die Peterson-egpaar is op 13 September 2017 op hul plaas, TNT Trading, aangeval terwyl hulle besig was om ontbyt te eet.

Luidens die klagstaat het die vier mans eers een van die plaaswerkers oorval toe hy vir werk op die plaas opgedaag het. Hulle het die man in ’n gebou toegesluit en toe die huishulp oorval en gedwing om die huis vir hulle oop te sluit.

Pattie is in haar maag en kop geskiet. Peterson het sy bloeiende vrou probeer wegsleep van die vier aanvallers toe hy in sy gesig geskiet is.

Pattie is in die plaashuis dood en Peterson is etlike weke later in ’n Pretoriase hospitaal aan sy beserings dood.

Die mans het met geld, wat in Pattie se handsak was, selfone en wapens gevlug.

Kapt. Renier Schutte van die polisie in Bela-Bela en ’n span speurders het saam met oudkol. Sakkie Louwrens van Heritage Protection Group (HPG), ’n misdaadbestrydingsorganisasie wat deur oudpolisielede gestig is, sonder ophou na die egpaar se moordenaars gesoek.

Hulle het op 29 September 2017 op die mans toegeslaan waar hulle in Hammanskraal, noord van Pretoria, gebly het.

Mathebula, Nkonyana, Tebula en Maringa is borgtog geweier. Hul verhoor het in Maart in die rondgaande hooggeregshof in Lephalale begin. Hulle het skuld op al die aanklagte ontken.

Louwrens sê dit is danksy die goeie samewerking tussen die polisie en HPG dat die moordenaars swaar gestraf is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.