Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
4 lede vry oor Marikana: ‘Ons was weerligafleiers’
Brig. Kiewiet van Zyl Foto: Susan Cilliers

Die reputasie en loopbane van vier senior polisielede van Noordwes is op die spel geplaas om “die aandag af te lei” van die feit dat niemand nog van die dood van 34 mynwerkers in 2012 in Marikana aangekla is nie.

“Mense met ’n onbesproke agtergrond wat hul hele lewe aan die polisie gewy het, is die sondebokke gemaak, terwyl diegene wat werklik aan die pen moes ry, skotvry is,” het Jan Ellis, twee van die vier se prokureur, Vrydag gesê.

Genl.maj. Mzondaze William Mpembe, brig. Kiewiet van Zyl, kol. Dingaan Madoda en kapt. Oupa Pule is verlede week in die hooggeregshof in Mmabatho onskuldig bevind op aanklagte dat hulle versuim het om die dood van een van die mynwerkers by die polisie se onafhanklike ondersoek-direktoraat (Opod) aan te meld.

Verder is beweer dat hulle voorgegee het dat Modisaotsile van Wyk Segalala in ’n hospitaal dood is, terwyl hy in ’n polisievangwa gesterf het.

Regter Ronald Hendricks het bevind die staat kon geen van hierdie bewerings bo redelike twyfel bewys nie. Mpembe, Van Zyl en Madoda het aangevoer hulle was nie een bewus van Segalala se geval nie, terwyl Pule dadelik sy bevelvoerder, brig. Samuel Seboloki, daaroor ingelig het.

Die 34 werkers van die Lonmin-myn in Marikana naby Rustenburg is op 16 Augustus 2012 dood toe hulle oor loonkwessies betoog het. Die polisie het van die betogers doodgeskiet.

Die vier lede was nooit vir dié optrede aangekla nie.

Mpembe was destyds adjunk-polisiekommissaris in Noordwes en bevelvoerder oor die Marikana-situasie. Van Zyl was tydens die onrus die bevelvoerder van die speurders in die operasionale sentrum op die Lonmin-perseel. Pule en Madoda het albei gewerk in die gebou waar mense wat elders op die perseel in hegtenis geneem is, geprosesseer is.

Segalala is vermoedelik dood terwyl hy saam met verskeie ander mense wat in hegtenis geneem is in ’n polisievoertuig na die gebou geneem is. Hy is in die borskas gewond.

Brig. Kiewiet van Zyl (middel) by sy regspan, Jan (links) en Michael Ellis van Potchefstroom. Hulle staan hier by van die tientalle lêers oor die Marikana-saak. Foto: Susan Cilliers

Met Segalala se aankoms by die gebou het Seboloki, bevelvoerder in die prosesseringsentrum, die voertuig ingewag en eerstehands van die lyk kennis geneem. Pule het polisiefotograwe ontbied om foto’s van die lyk te neem. Seboloki het paramedici ontbied wat Segalala op die toneel dood verklaar het, waarna die staatslykswa laat kom is en sy lyk weggeneem is.

Die voorval is ook in die sentrum se voorvalleboek aangeteken.

Ellis het Vrydag na ’n beëdigde verklaring verwys wat deel van Opod se saakdossier is en volgens hom van die begin af die aantygings weerlê het dat Segalala se dood verberg is.

Volgens die verdediging het hulle dit as ’n bewysstuk by die hof ingedien nadat die staat versuim het om dit te doen. Daarin staan dat Lepono Erence Motaung van Opod die lyk op 16 Augustus aan die staatslykshuis oorhandig het.

“Wat is nou hier verberg? Hier behoort ’n ondersoek te wees oor hoekom dié vier vervolg is,” het Ellis gesê.

Genl.maj. William Mpembe Foto: Verskaf
Genl.maj. William Mpembe Foto: Verskaf

Segalala se dood is die eerste keer in 2016 weer geopper toe ’n Opod-lid die foto’s van sy lyk in ’n kluis in hul kantoor in Rustenburg gevind het. Ellis het gesê die “narratief” is toe geskep dat dit ’n 35ste mynwerker was wie se dood weggesteek is.

“Segalala was een van die 34 oorledenes. ’n Lykskouing is op hom gedoen, net soos op die ander slagoffers, sy familie het hom in die staatslykshuis uitgeken en later begrawe. Opod het toe al van hom geweet, want hulle het op 18 Augustus verklarings afgeneem van mense wat saam met Segalala in die polisievoertuig was.”

Die hof het bevind dit was Seboloki as bevelvoerder van die prosesseringseenheid se taak om Segalala se dood by Opod aan te meld.

• Mpembe en nog ander polisielede staan in ’n afsonderlike saak tereg op aanklagte van moord en poging tot moord op polisielede wat op 13 Augustus 2012 in die onrus in Marikana dood is. Dié saak duur voort.

LEES OOK: Marikana-saak het polisie-hoë ‘geestelik gemartel’

Meer oor:  Marikana
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.