Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
4 vas ná plaasaanval by Rustenburg, tuinwerker verdink

Vier mense verskyn Woensdag in die landdroshof in Rustenburg in verband met ’n plaasaanval verlede week naby dié stad in Noordwes.

’n Tuinwerker wat op die plaas werk, word daarvan verdink dat hy by die aanval betrokke was. Hy het ná die aanval verdwyn en is steeds soek, het kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, Dinsdagmiddag gesê.

Kapt. Elsabé Augoustides, polisiewoordvoerder in Rustenburg, het in ’n mediaverklaring gesê die Rustenburgse trio-taakspan het die vier verdagtes tussen Vrydag en Maandag vasgetrek. Hulle is onderskeidelik in die Lethabong- en Boitekong-townships naby Rustenburg gevang.

Die vier, wie se name nie nou al bekend gemaak is nie omdat hulle nog nie in die hof verskyn het nie, word verdink van betrokkenheid by ’n rooftog op 2 Oktober op ’n plaas in die Boschfontein-omgewing.

“ ’n Wapen is glo op die tuinwerker gerig, waarna hy in die huis (op die plaas) gedwing is,” het Augoustides gesê. “In die huis is ’n 50-jarige vrou en ’n huiswerker glo met ’n wapen aangehou, met kabelbinders vasgebind en met ’n pistool geslaan.”

Die verdagtes het na bewering die kluis se sleutel in die hande gekry en dit oopgemaak. Hulle het glo gevlug met ’n 303-geweer, juwele, kontant, die twee vroue se selfone en ’n silwer BMW-motorfiets. Later is vasgestel die tuinwerker het saam met die rowers verdwyn.

Lede van die trio-taakspan het leidrade opgevolg en kon binne ’n paar dae ná die rooftog vier van die altesaam ses verdagtes in hegtenis neem. Hul ouderdomme wissel van in die vroeë 20’s tot middel 30’s, sê Augoustides.

Die taakspan kon ook die geweer, juwele, selfone, ’n gedeelte van die gesteelde kontant en die motorfiets terugkry. Die fiets se onderdele is egter verwyder.

Genl.maj. Arthur Adams, gebiedsbevelvoerder in Rustenburg, het die trio-taakspan bedank vir hul vinnige optrede. “ ’n Aanval op vroue en kinders sal nie geduld word nie. Die polisie sal geen steen onaangeroer laat om seker te maak misdadigers word voor stok gekry nie.”

Meer oor:  Rustenburg  |  Noordwes  |  Misdaad  |  Plaasaanval  |  Inhegtenisnames
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.