Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
41 verdagtes in hof ná gyseldrama by kerk

Altesaam 41 verdagtes het ná die gyselaarsdrama by ’n kerk aan die Wes-Rand Maandag in die landdroshof in Westonaria verskyn.

Volgens die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het die verdagtes op aanklagte van moord, poging tot moord en kwaadwillige beskadiging van eiendom in die hof verskyn.

“Twee verdagtes is in die hospitaal. Hulle sal aangekla word en in die hof verskyn wanneer hulle uit die hospitaal ontslaan word,” het Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die NVG, gesê.

Die 41 verdagtes bly in aanhouding en verskyn weer op 15 Julie in die hof.

Van die mense wat in hegtenis geneem is, is lede van die polisie en weermag, asook van die Johannesburgse metropolisie en mense wat vir die departement van korrektiewe dienste werk.

Vyf mense is Saterdag in die gyselaarsdrama by die International Pentecostal Holiness Church in Zuurbekom dood. Die polisie het afgekom op die lyke van vier mense wat geskiet en in ’n motor verbrand is, asook op die lyk van ’n veiligheidswag wat in sy motor doodgeskiet is nadat hy oënskynlik op die klag (oor die skietery) gereageer het.

Netwerk24 het vroeër berig ooggetuies het vertel die aanvallers het Saterdag omstreeks 01:30 by die kerk opgedaag. Hulle was glo as polisiemanne vermom en het in ’n BMW en twee Toyota Quantum-bussies opgedaag. Hoewel hulle toegang geweier is, het hulle by ’n ander ingang van die gebou ingekom.

Dit dui op ’n moontlikheid dat die voorval goed georkestreer en gekoördineerd was en voorkom moes word, veral as wetstoepassers na bewering betrokke was.

Intussen het die provinsiale wetgewer van Gauteng se portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid gesê die gyselaarsdrama wys uitdagings in die misdaadintelligensie-eenheid van die polisie, en die vermoë om misdade van dié aard te voorkom.

Die portefeuljekomitee het ook sy kommer uitgespreek oor die inhegtenisneming van lede van die polisie, weermag, die Johannesburgse metropolisie en mense wat vir die departement van korrektiewe dienste werk.

“Dit dui op ’n moontlikheid dat die voorval goed georkestreer en gekoördineerd was en voorkom moes word, veral as wetstoepassers na bewering betrokke was.

“Die komitee doen ’n beroep op die regstelsel om wetstoepassers wat aan dié afskuwelike misdade skuldig bevind word, groot vonnisse op te lê,” lui die verklaring.

Volgens die verklaring sal Faith Mazibuko, LUR vir gemeenskapsveiligheid, en genl. Elias Mawela, provinsiale polisiekommissaris, oor dié gebeure voor die komitee verskyn.

Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het Sondag leiers van die kerk besoek. Cele en Sitole is ingelig oor die leierskapstryd wat die afgelope paar jaar by die kerk woed.

“Op die vergadering is ’n beter kommunikasielyn tussen die kerk en die polisie tot stand gebring en is besluit om dit te handhaaf.

“ ’n Manier is ook gevind waarop die polisie en die kerk kan saamwerk om die veiligheid van gemeentes en die kerk se eiendom te verseker,” lui ’n verklaring wat namens Cele uitgereik is.

Meer oor:  Phindi Mjonondwane  |  Wes-Rand  |  Westonaria  |  Kerk  |  Moord  |  Poging Tot Moord  |  Gyselaarsdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.